fbpx

Laer olieprys voorspel ernstige ekonomiese probleme

Deur on Mrt 18, 2020

Nuuskommentaar: 18 Maart

Selfs die beste ekonome in die wêreld sou nie ‘n jaar gelede ‘n olieprys van 30 dollar per vaatjie voorspel het nie. Die afgelope twee weke se skerp daling in die olieprys, die grootste daling sedert die Golfoorlog in 1991, is egter deur ‘n bykans perfekte storm meegebring. Die koronavirus-krisis gepaardgaande met ‘n geskil tussen Rusland en Saoedi-Arabië oor die hoeveelheid olie wat dié twee lande moet produseer het die olieprys behoorlik laat tuimel met sommige ontleders wat nou sê dat die olieprys selfs tot so min as 20 dollar kan daal.

Terwyl verbruikers kan juig oor laer oliepryse, is so ‘n skielike skerp daling ook een van die belangrikste gevaarligte vir die globale ekonomie.  Die verteenwoordigende organisasie van veertien van die wêreld se grootste olieprodusente, insluitende Rusland en Saoedi-Arabië, OPEC wou onlangs hê dat lidlande hulle produksie vanaf April tot die einde van die jaar verminder, maar Rusland het geweier om dit te doen.

Die rede vir Rusland se olieprysoorlog is dat dié land die afgelope tyd heelwat markaandeel aan Saoedi-Arabië en die VSA afgestaan het. Rusland wil dit met hoë produksie en laer pryse probeer terugkry.

Tweedens is die Russe kwaad vir die VSA nadat Amerika ingemeng het met twee pyplynprojekte wat olie en gas vanaf Rusland na Wes-Europa moet vervoer. ‘n Groot deel van Amerikaanse olieproduksie kom uit skalie en die ontginningsproses is baie duurder as byvoorbeeld die ontginning uit olievelde in die Midde-Ooste. Teen die huidige olieprys word olie uit skalie teen ‘n verlies in die VSA ontgin en sal Amerikaanse olieproduksie dus noodgedwonge skerp afneem wat die geleentheid skep vir Rusland om sy verlore markaandeel terug te kry.

Dit is egter nie net Rusland se weiering om sy olieproduksie te verlaag, wat tot die skerp afname in oliepryse aanleiding gegee het nie. Die huidige krisis met die verspreiding van die koronavirus en die ingrypende maatreëls wat deur talle lande ingestel is, het selfs ‘n groter bydrae gelewer. Dit word al hoe duideliker dat ‘n groot hoeveelheid lande in die wêreld weens die korona-krisis in ‘n resessie of selfs ‘n ekonomiese depressie gedompel gaan word. Laer ekonomiese aktiwiteit, beteken ‘n laer vraag in olie wat tot ‘n laer prys aanleiding gee.

Terwyl laer oliepryse tot laer brandstofpryse vir verbruikers gaan lei en ook produksiekoste in verskeie sektore kan verlaag, moet die ernstige gevaarlig van ‘n tuimelende olieprys nie misgekyk word nie. In olieproduserende lande gaan dit tot groot begrotings- en selfs kontanttekorte aanleiding gee, wat vinnig tot ‘n humanitêre krisis kan lei.

Die belangrikste is egter dat elkeen van ons moet besef dat ernstige ekonomiese probleme op ons voordeur is. Die skerp daling in oliepryse voorspel ‘n resessie in groot dele van die wêreld met laer vraag na produkte en dienste, ook dié wat uit Suid-Afrika kom. Indien die wêreld vir twee of drie kwartale van 2020 negatiewe groei moet beleef sal die reeds kwesbare Suid-Afrikaanse ekonomie juis baie hard getref word. Daarom is dit belangrik vir individue en ondernemings om gereed te maak vir ‘n baie moeilike paar maande wat voorlê. Laer pryse vir petrol of diesel vir jou motor gaan nie vir die groter verlies in ekonomiese aktiwiteit opmaak nie.


Lees verder

Current track

Title

Artist