11 September 2022
‘n Slik-myndam naby Jagersfontein in die suid-weste van die Vrystaat het laat gisteraand gebreek en het die dorp vanoggend oorstroom.
Foto’s en video’s word sedertdien wyd op sosiale media versprei. In een van die videos kan gehoor word hoe paniekbevange plaaswerkers na die plek haas waar die dam gebreek het om te kyk wat te redde is.
In die naburige woonbuurt, Charlesville het huise onder die modder meegegee en het ineengestort. Ook in Jagersfontein is foto’s versprei van massas modder waarin diere en motors vasgevang is. Volgens berigte is nagenoeg 30 huise geraak.
‘n Boer in die gebied, Dennis Louw het aan Netwerk24 gesê dat hy kort voor 07:00 vanoggend by sy huis uit is om die skape te voer toe hy ‘n gedruis hoor. Die slik het vanuit die dam oor die pad tussen Jagersfontein en Trompsburg gespoel.
Hy sê hy kon nie vinnig genoeg al sy diere na veiligheid verjaag nie en is nie seker hoeveel van sy skape het gevrek nie. Die polisiediens en ander nooddienste is tans op die toneel, en inwoners word uit die dorp ontruim.
Hierdie voorval is soortgelyk aan die Merriespruit-tragedie in 1994 toe ‘n slikdam se walle gebreek het en die dorp in modder bedek het. Talle mense is dood.