Kultuursake in België gedryf – dalk einde van die staat

Deur on

Kultuursake in België gedryf – dalk einde van die staat

Bekommernisse oor die voorgenome Bela-wetgewing oor onder meer die potensiële aanslag teen Afrikaanse kultuurgoedere, maak ‘n belangrike deel van ons politieke beoordeling uit. Maar nie net hier nie – ook in België, waar die kiesers op 9 Junie stembus toe gaan, word die kultuuraspek sterker beklemtoon – veral in Vlaandere.

Dit is nie net Suid-Afrikaners wat vanjaar drie stembriewe kry nie. Die Belge kry ook drie, of na berig word selfs moontlik vier. Dit is omdat die verkiesing vir die Europese parlement terselfdertyd plaasvind, en die Vlaminge benewens vir die Vlaamse parlement, ook vir die federale parlement kan stem.

Die oë van die wêreld is veral op die Vlaminge se verkiesingsuitslae gerig weens die reuse opkoms van die Vlaams Belang, wat volgens sy uitmuntende verkiesingsmanifes Vlaamse onafhanklikheid voorstaan, en negatief oor ander opsies, soos selfs ‘n konfederasie staan. Om hul posisie duidelik te stel, verklaar die Vlaams Belang dat hulle die Tsjeggo-Slowakye opsie wat op twee onafhanklike state uitgeloop het, nastreef.  Die wêreld is egter oor veral een ding begaan – die party se migrasiebeleid – ‘n afkeer in migrante uit veral Afrika en die ooste, ‘n kwessie wat soos ‘n golf oor feitlik die ganse Europa spoel en na verwagting die ideologiese karakter van die Europese parlement drasties gaan verander.

Maar geoordeel aan die verkiesingsmanifes van die party is migrasie maar een van amper 50 beleidskwessies. Van dwelms tot openbare vervoer, sorg vir bejaardes tot onderwys, kom aan die bod. En dan, kultuursake op eie bene naas byvoorbeeld onderwys, die media,  sport, die jeug en, ja, selfs woke, word bespreek.

Die party plaas egter baie klem op kultuursake, en maak die stelling dat kultuur in die verlede altyd ‘n terloopse saak was, maar nou nie meer nie. En net om dit duideliker te stel, vra die party dat die begroting vir kultuur verdubbel moet word.

Die strewe na onafhanklikheid is egter ook sterk op finansiële gronde gebaseer. Daar word sterk eksepsie geneem dat Vlaandere jaarliks tussen 7 en agt miljard Euro’s aan die Franstalige Wallonië moet oorbetaal. Dié oorbetalings, wat saam met Wallonië se skuldverpligtinge eintlik veel meer beloop, word volgens Vlaams Belang in ‘n bodemlose put gestort. Dit is om die Wale se geneigdheid tot sosialisme en ‘n welsynsbedeling te finansier. Die Waalse Sosialiste Party domineer trouens die gebied. Maar dit tap die gebied se ekonomiese ontwikkeling. Hierdie subsidiëring van die Wale se luilekker-lewe kos elke Vlaming, van baba tot die graf, sowat 2 000 Euro’s per jaar per kop.

En dis mos geld wat goed vir Vlaamse kultuurontwikkeling benut sou kon word.

Boonop wys die party daarop dat elke Vlaamse parlementslid wat tot die federale parlement verkies wil word, meer stemme moet kry as wat sy Waalse eweknie nodig het. Dit lei daartoe dat sewe van die ministers wat Wallonië in die kabinet verteenwoordig, in hul poste beland het weens die effektiewe ontneming van Vlaamse kiesers se stemme.

Iets wat al lank haper is dat die Vlaminge verplig word om naas Nederlands ook Frans op skool te moet leer, terwyl die Franssprekendes nie Nederlands hoef te leer nie. Trouens, die Wale word as een van die mees eentalige taalgemeenskappe ter wêreld beskou. Toe daar ‘n gedagte in Vlaandere ontstaan het dat Vlaamse leerlinge tussen Frans en Engels op skool sou kon kies, was daar hewige teenkanting vanuit Wallonië.  Na berig word het daardie beswaar nie goed onder die Vlaminge afgegaan nie.

Op een punt kry die Vlaminge wel hul neuse voor – die Vlaminge kan dertien setels in die Europese parlement opneem, die Franstaliges 8, en die Duitssprekende minderheid 1.

Ander Vlaamse partye is nie so duidelik oor onafhanklikheid, of selfs aansluiting by Nederland nie. Die Nederlandse opsie het ‘n sterker moontlikheid geword na ‘n sensus enkele jare gelede getoon het dat daar nou meer Rooms-Katolieke as Protestante in Nederland is. Die feit dat België ‘n grootliks Rooms-Katolieke bevolking het, en Nederland ‘n bakermat vir Protestantisme was, was een van die hoofredes hoekom Nederland en België (of dan minstens Vlaandere) nie ‘n politieke eenheid gevorm het nie. Boonop is beide lande nou so gesekulariseer dat daar soms na hulle as post-Christelike lande verwys word.

Dat die Nederlandse opsie nie meer sterk staan nie, blyk daaruit dat die leier van die N-VA, Bart de Wever, wat lank die vaandel van Vlaamse outonomie gedra het, met ‘n Nederlandse vrou getroud is, maar self nie die opsie ondersteun nie. Met die vorige sokker-wêreldbeker, waar België onverwags goed gevaar het, het talle Nederlanders, wie se eie eens magtige span sleg uitgesak het, die Belgiese span begin ondersteun. Volgens die Vlaamse media is dié verskynsel nie in Vlaandere goed ontvang nie.

Die N-VA se uiteindelike ontvangs van die konfederale gedagte, het traag weggespring. Tegnies is daar min verskil tussen ‘n konfederasie en totale onafhanklikheid omdat België in elk geval lid van die Europese Unie is. Die verhouding tussen deelstate van ‘n egte konfederasie word eerder deur die internasionale reg as deur nasionale wetgewing bepaal – dus vir alle teoretiese doeleindes onafhanklik. Al wat eintlik staatkundig verander is dat met totale onafhanklikheid die Belgiese federale regering as (onnodige) middelman uitgeskakel word. Dieselfde argumente is byvoorbeeld gehoor toe Skotse onafhanklikheid gedryf is terwyl Brittanje deel van die Europese Unie was – die Britse parlement – eintlik die Engelse parlement – sou dan ‘n onnodige tussenganger wees.

Die feit dat die bestaan van die Europese parlement by tye erg onder die spervuur kom, en dus hierdie argument kon rysmier, lyk ook op die oomblik nie ‘n sterk waarskynlike rol te speel nie.

Die toekoms van België as staat kan dus heel moontlik op 6 Junie beslis word – mits die vreemdelingekwessie nie so oorheersend is dat die onafhanlikheidskwessie as prioriteit terugsak nie. België se regeerstelsel word as spaghetti voorgestel – ‘n ingewikkelde klomp vervlegde drade waarin die status van Brussel ‘n groot rol gaan speel. Brussel val volledig binne Vlaandere, maar is grootliks Waals-gedomineer. Vlaandere word nou vanuit Antwerpen regeer maar die Vlaams belang stel dit duidelik – Brussel sal hul hoofstad wees.

Maar een ding is duidelik – baie Vlaminge is moeg daarvoor om soos ‘n Waalse kolonie met beperkte federale magte vanuit Antwerpen te regeer. Die Belgiese spaghetti het vir hulle sy smaak verloor. 


Current track

Title

Artist