fbpx

Kry gedrukte koerante ook koerantgriep?

Deur on Mrt 23, 2020

PRETORIA FM: NUUSKOMENTAAR – 23 Maart

Gedrukte koerante is al ’n geruime tyd onder druk. Onder die faktore wat daarvoor blameer word, is die opkoms van die elektroniese en kubermedia. En dis nie asof die kubermedia altyd skoon hande het nie – dit word ook vir die verspreiding van fopnuus gebruik.

Maar nou, so blyk dit uit verskeie mediakringe, het nog ’n faktor bygekom wat seker informeel koerantgriep genoem kan word. Dis aan Covid-19 te dankie dat koerante nou nog ’n tree weg van die ou gedrukte formaat moes neem. Vanoggend skryf Cees van der Laan, redakteur van die Nederlandse koerant Trouw, dat die koerant weens Covid-19 allerlei probleme ondervind, en raai hy lesers aan om eerder die nuus op die digitale weergawe te volg.

Die redakteur van Beeld, Barnard Beukman, skryf die week op Netwerk 24 dat sy koerant pas geëksperimenteer het deur soveel as moontlik redaksielede van die huis af te laat werk. Dit was juis gedoen om gereed te wees sou Covid-19 onder die personeel uitbreek. Dit verminder uiteraard ook die kanse vir besmetting.

’n Bykomende probleem is dat daar ’n skynbaar groeiende groep mense is wat heeltemal nuussku is, en basies enige nuusbrom vermy. ’n Senior skakelbeampte by ’n universiteit, het byvoorbeeld gespog dat sy nie koerante lees nie, en as sy iewers heen ry, die karradio afsit of na ’n ander stasie draai sodra ’n nuusbulletin uitgesaai word. Haar, en ander wat niks van nuus wil weet nie, maak ’n belangrike deel van wat in Europa as die “verdommingsproses” bekend staan.

En dit is juis die media wat ’n enorme rol speel dat noodsaaklike inligting oor Covid-19 aan die publiek versprei word. Die gedrukte media se rol is ontsaglik belangrik, want die leserspubliek kan byvoorbeeld berigte uitknip en hou oor na watter simptome opgelet moet word. Die meeste gevestigde media bring saam met hulle oplaag ook ’n merkwaardeige institusionele geheue, soos die korrekte spelling en woordkeuses. Ja, die Engelse invloed op die Afrikaanse media lê soos ’n honger leeu en wag om te spring – en soms slaag die sprong. Die week het ’n prestige Afrikaanse tydskrif in die slaggat getrap deur na ’n seksie in ’n wet te verwys, in plaas van artikel.  Dikwels is die probleem dat die bronne hul nuus net in Engels versprei, en die erkende Afrikaanse woorde en uitdrukkings raak by baie onbekend.

Dink maar hoe het die uitdrukking, Iemand is onder die bus ingegooi, in die media posgevat na ’n destydse Afrikaanse redakteur dit so gepubliseer het, in plaas van die korrekte Afrikaanse Iemand vir die wolwe gooi.

Ten spyte van die bedreigings van Covid-19, lyk dit voorlopig of daar oorkombare alternatiewe is, soos om danksy moderne tegnologie selfs meer as tevore te diversifeer.  So drie dekades gelede is gesê as iemand ’n tikmasjien en faksmasjien het, kan hy ’n politieke party wees. Nou kan iemand wat oor ’n slimfoon en  skootrekenaar beskik, ’n verslaggewer en fotograaf wees, wat net wys dit verg meer hulpmiddels en vaardigheid as om ’n politikus te wees, al vertel die loontjekkie ’n ander verhaal.


Lees verder

Current track

Title

Artist