fbpx

Korrek, maar nie polities korrek nie

Deur on Jul 2, 2020

Nuuskommentaar: 2 Julie

Deur: Willie Spies

Daar het pas weer ‘n storm losgebars oor ‘n Twitter-plasing van die DA se federale voorsitter, Mev Helen Zille waarin sy daarop sinspeel dat daar meer rassewette na 1994 gemaak is as in die apartheidsjare.

Die verontwaardiging oor Zille se plasing is gevoed deur ‘n blinde geloof in die grondwetlike verbintenis van Suid-Afrika tot, wat beskryf word as, die beginsel van nie-rassigheid. Sy is selfs deur die DA se interim-leier, Mnr John Steenhuizen gerepudieer.

Maar is Zille inderdaad verkeerd of is sy dalk korrek?

Professor Koos Malan, van die Universiteit van Pretoria se Departement Publiekreg het reeds in 2010 ‘n lys van post-1994 rassebepalings wetgewing in ‘n akademiese artikel opgesom. Dit bevat nie eens die prominentste rassewette, soos die Wet op Billike Indiensneming (wat voorsiening maak vir kwotas in die werkplek); die Breedgebaseerde SEB-wet (wat voorsiening maak vir rasse-profiele van aandeelhouding en beheer van ondernemings en ondernemings) of die Wet op Sport en Ontspanning (wat die vereiste van verteenwoordiging by alle sportspanne, na goeddunke van die Minister van Sport  oplê) nie.

Die mees onlangse omstrede vereistes van die Departement van Toerisme wat voorkeur verleen aan swart beheerde maatskappye met betrekking tot COVID-19 verligting uit staatsfondse of onlangse ontwikkelings soos die voorgenome wysiging aan artikel 25 van die grondwet wat konfiskering van grond in sonder vergoeding wil magtig ten einde dit aan swart mense te herverdeel is ook nog nie deel van die lys nie.

Die lys sluit vyf-en-veertig wetsbepalings in wat rasseverteenwoordigendheid vereis in werksplekke, beheerliggame, kommissies en vele meer, waaronder:

  • die Nasionale Jeugkommissiewet;
  • die Wet op Kulturele Instellings;
  • die Suid-Afrikaanse Geografiese Namewet;
  • die Nasionale Omgewingsbestuurswet;
  • die Nasionale Bemagtigingsfondswet;
  • die Wet op Indiensneming van Onderwysers;
  • die Wet op Staatsinligtingstegnologie;
  • die Mededingswet;
  • die Nasionale Huisbouersraadwet;
  • die Munisipale Afbakeningsraadwet;
  • die Nasionale Film en Video Stigtingswet;
  • die Nasionale Kleinsakeontwikkelingswet;
  • die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasiewet;
  • die Uitsaaiwet;
  • die Wet op die Nasionale Erfenisraad;
  • die Wet op die Onafhanklike Uitsaaiowerheid van Suid-Afrika;
  • die Wet op die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders;
  • die Wet op die Argitektuur Professie;
  • die Wet op die Bourekenaarsprofessie;

om maar net ‘n paar te noem.

Alhoewel die Wet op Rasseklassifikasie herroep is met die uitfasering van apartheidswette tussen 1990 en 1994, het die staat nou ‘n nuwe definisie van swart mense gevind. Die Breedgebaseerde SEB-wet, definieer swart mense bloot as “’n generiese term wat Afrikane, gekleurdes en Indiërs” insluit.

Die Wet op Billike Indiensneming gebruik dieselfde definisie maar maak voorsiening vir die verdere onderskeid tussen verskillende klasse swart mense naamlik Afrikane, Indiërs en gekleurdes tesame met die klassifikasie van gestremdes en vroue.

Litigasie is al deur die vakbond Solidariteit tot in die grondwethof gevoer in gevalle waar die Polisie teen ‘n vrou, Kaptein Renate Barnard, gediskrimineer het omdat sy nie swart was nie.

‘n Verdere regstryd is deur Solidariteit teen die Departement van Korrektiewe Dienste gevoer omdat hulle weer gediskrimineer het teen ‘n groep bruin lede by ‘n gevangenis in die Wes-Kaap weens “oorverteenwoordiging” van bruinmense wat weer onderskei word van sogenaamde African blacks.    

“Nie-rassigheid” is een van die funderende beginsels van die grondwet wat met slegs ‘n 75% meerderheid gewysig kan word.

Professor Malan bestempel egter die nie-rassigheidsbeginsel in die grondwet as ‘n voorbeeld van wat hy doodgebore reg noem.

Nie-rassigheid is volgens Malan doodgebore omdat die beginsel van diversiteit en breë verteenwoordigendheid van instellings deur die staat se wetgewing omvorm is tot ‘n eksakte wiskundige formule van proporsionele rasse-verteenwoordiging in elke denkbare sektor van die samelewing opdwing.

Met bogenoemde in ag was Zille dalk korrek, alhoewel nie polities korrek nie.


Current track

Title

Artist