fbpx

Koronakrisis wat Afrika ekonomieë vinnig en hard tref

Deur on Mrt 26, 2020

Nuuskommentaar: 26 Maart

Terwyl die koronavirus sy wurggreep oor die grootste deel van die wêreld versterk en die besmettingskoers en dodetal daagliks styg, neem die kommer van die ekonomiese gevolge van die virus en die noodmaatreëls wat lande neem om dit aan te spreek, ook toe. Daar bestaan al hoe meer kommer dat sou die virus ook wyd oor Afrika versprei, dié kontinent baie moeilik die gesondheids- en ekonomiese gevolge sal kan beveg.

Voordat die koronakrisis minder as drie maande gelede die wêreld getref het, was die wêreldekonomie op koers om in 2020 gesonde groei te toon. Die Internasionale Monetêre Fonds het laat verlede jaar voorspel dat die meeste ekonomieë in Afrika in 2020 baie sterk sou groei met ses van die tien vinnigste groeiende ekonomieë op die Afrika-kontinent.

Sterk ekonomiese groei is natuurlik broodnodig vir Afrika omdat die Afrika steeds die armste lande in die wêreld het met sowat 400 miljoen Afrikane was deur die IMF as arm geklassifiseer word. Die koronakrisis kan egter nou tot ‘n skerp toename in armoede op die Afrikakontinent lei sou die meeste Afrikalande voortgaan om maatreëls in te stel wat die koronavirus se verspreiding probeer verlangsaam.

Terwyl die ekonomiese gevolge in Suid-Afrika, soos in talle ander lande in Asië, Europa en die Amerika’s, duidelik begin raak, is dit nog onduidelik presies hoe die krisis op die kwesbare ekonomieë van arm Afrikalande gaan inspeel.

Daar is ‘n paar redes tot kommer. Die eerste is die skerp daling in kommoditeitspryse. Baie Afrikalande se ekonomiese groei word gedryf deur ‘n toename in die ontginning en uitvoer van minerale en ander hulpbronne. Die skerp daling in die prys van olie, goud en ander hulpbronne werk reeds negatief in op die ekonomieë van talle Afrikalande.

Tweedens word heelwat van die ekonomiese groei in Afrika gedryf deur handel met China. Hoewel China beweer dat die verspreiding van die koronavirus daar onder beheer is, gaan die ekonomiese gevolge nog vir lank in China gevoel word. Behalwe vir die versteuring van produksie, is daar ook ‘n skerp afname in vraag na Chinese produkte. Die vraag na grondstowwe uit Afrika gaan dus minstens oor die korttermyn minder wees.

Talle Afrikalande voer egter ook heelwat noodsaaklike middele uit China in. Sou die koronavirus ook sy houvas op Afrika kry sal die tekort aan sommige produkte uit China beide gesondheids- en ekonomiese implikasies hê. Die foto’s van leë winkelrakke in Kenia word reeds op sosiale media versprei en daar is genoeg rede om te glo dat die tekort aan produkte ook in ander Afrikalande sal begin ontstaan.

Hoewel die grootste probleme met die koronavirus tans nog in Asië, Europa en Noord-Amerika is, is daar genoeg rede om te glo dat dit uiteindelik ook na elke land in die wêreld sal versprei. Indien handel tussen Afrikalande en onder andere China, ander Asiatiese lande, die VSA en die Midde-Ooste ernstig versteur word kan die ekonomiese gevolge selfs erger as in Westerse lande wees. Juis daarom is dit nodig dat Afrikalande betyds begin optree. Met ‘n krisis wat die hele wêreld raak is daar min ander lande wat die nodige kapasiteit sal hê om Afrikalande te kom bystaan sou die krisis hier lelik raak.


Current track

Title

Artist