fbpx

Kongresseisoen vir landbou

Deur on Sep 4, 2019

Nuuskommentaar: 4 September

In landbougeledere het die seisoen van kongresse aangebreek, waar  sekere provinsiale en nasionale landbou-unies hulle visie en beleid vir die volgende jaar uitstippel in die lig van verwikkelinge die afgelope jaar en waar leiers vir die volgende termyn aangewys word.

Die kongresse word ook gebruik om gassprekers te nooi wat hulle kundigheid deel wat dan deur die landbou-unies gebruik word om bepaalde perspektiewe op sake te kry vanuit ’n ander hoek en waaruit moontlike operasionele optrede beplan kan word.

Tydens een van die provinsiale kongresse wat reeds plaasgevind het, het die voormalige hoofuitvoerende beampte van Toyota SA, meneer Brand Pretorius, ’n voordrag gelewer oor leierskap in die lig van sy ervarings oor dekades heen.

Een van die belangrikste punte wat hy beklemtoon het, is dat leiers die bepalers en draers van ’n organisasie se beginsels is en wat mense besiel met ’n toekomsvisie, teenoor bestuurders wat die huidige bestuur deur stelsels in stand te hou.

Daarom moet leiers vir hulleself ’n lys maak van al hulle waardes en beginsels, onderneem om altyd daarby te bly en dié lys te onderteken. Elke keer as die leier voor ’n moeilike besluit kom, word die lysie uitgehaal en word die besluit gemeet om te bepaal of dit kan inpas by die waardes en beginsels waarvoor hy staan.  Hy stel dit uitdruklik dat as daar gekies moet word tussen ’n pragmatiese- of ’n beginselbesluit, altyd die beginselbesluit geneem moet word, selfs al is dit die ongewilde besluit vir die oomblik.

Ironies genoeg, het daardie selfde landbou-unie net na hierdie toespraak verklaar dat hulle gekies het om die pragmatiese roete te volg.

Die volgende kongres wat plaasvind, is dié van TLU SA. Hierdie oudste landbou-unie van die land is bekend daarvoor dat hy die beginselpad stap al sedert sy stigting. Sy beginsels is dieselfde sedert sy stigting in 1897 en kom eenvoudig daarop neer dat hy die tuiste van die boer is en die belange van die kommersiële landbouer vooropstel sodat hy in veiligheid en volhoubaar op sy eie grond kan bly voedsel produseer vir die land se inwoners. Van hierdie ononderhandelbare beginsels sluit in die afhanklikheid van God Drieënig, die vryemarkstelsel en ekonomiese volhoubaarheid.

Daarom dat TLU SA ook nie altyd gewild is nie, want hy neem sy besluite binne die raamwerk van sy beginsels, ongeag met wie hy dan daaroor mag verskil. Daarom dat TLU SA byvoorbeeld die enigste landbou-unie is wat nie die swart bemagtiging handves van landbou onderteken het nie,  en hy geen klakkelose dissipel van transformasie is nie, omdat dit ’n pragmatiese standpunt is om polities korrekte punte aan te teken, terwyl die begrip transformasie nog nooit behoorlik gedefinieer is nie en daar nog nooit aangedui is tot waar daardie sogenaamde transformasie moet gaan nie.

Dalk is dit juis omdat ’n organisasie soos TLU SA so sterk op sy beginsels staan, dat hy kan bly bestaan, want uiteindelik kan beginsels die toets van die tyd deurstaan, terwyl pragmatisme dikwels ly tot ’n verstrengeling met onversoenbare standpunte en wat dan tot verwarring en selfs vervreemding lei. Waarskynlik is hierdie die resep waarom TLU SA daarop roem dat hy die afgelope jare ’n stewige groei in ondersteuning beleef het en kan daar dus uitgesien word na hulle kongres vir leiding vir die kommersiële landbou vir die volgende termyn. Pretoria FM is dan ook trots daarop om deel van daardie kongres te wees.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist