Kom ons kry weer perspektief

Deur on

Nuuskommentaar: 10 Junie

Deur: Barend Uys

Dit is nou ongeveer ’n jaar en ’n kwart sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie of WGO die uitbraak van COVID-19 as ’n pandemie verklaar het. Dié aankondiging het die wêreld onkant betrap, veral aangesien die teenwoordigheid van COVID-19 in China reeds vir maande bekend was.

Aangesien dit maar nog onlangs gebeur het, kan ons die gebeurtenis goed onthou. Die mees ingrypende aanname wat aanvanklik gemaak is, is dat COVID-19 deur ’n nuwe koronavirus veroorsaak word, en dat mense geen weerstand daarteen sal hê nie – massasterftes is voorspel. Die meeste regerings wêreldwyd het besluit om die voorbeeld van die Chinese Kommunistiese Party te volg en baie streng inperkings op beweging, en daarom ook op vryhede, ingestel. Dít is ons enigste verweer, is aangevoer.

Die tyd het aangebreek vir ons om vir ’n oomblik stil te staan en sorgvuldig na te dink oor wat gesê is, wat gebeur het, en wat tans aan die gang is.

Die belangrikste waarneming om te maak is om te besef dat die meeste mense sonder ingrypende mediese behandeling COVID-19 oorleef – die opdoen van COVID-19 is dus nie ’n doodsvonnis soos aanvanklik aangeneem is nie.

Ons leer steeds daagliks van COVID-19 en verandering vind boonop deurlopend plaas. Ons verstaan egter nou dat die oorgrote meerderheid kinders nie ernstig siek word van COVID-19 nie en dat jong en gesonde mense oor die algemeen ook lig daarvan afkom. Ons verstaan dat ouer mense en mense met spesifieke onderliggende gesondheidstoestande ’n hoër risiko loop om ernstig siek te word indien hulle met die SARS-CoV-2-virus besmet word.

Een van die belangrikste waarnemings om te maak, is dat COVID-19 behandelbaar is. Dokters regoor die wêreld het ontdek dat effektiewe, vroeë behandeling van COVID-19 met ’n kombinasie van verskillende bestaande medisynes ’n pasiënt se risiko om gehospitaliseer te word en moontlik te sterf, drasties verminder.

Alhoewel van die aanvanklike aannames oor COVID-19 nou verkeerd bewys is, tree veral regerings en owerhede steeds op asof dit nie so is nie.

Ten spyte daarvan dat navorsing van regoor die wêreld bewys dat inperking ’n weglaatbare impak op COVID-19-sterftes het, bevind ons onsself steeds in ’n amptelik verklaarde ramptoestand en word vryheid van beweging steeds beperk.

Die WGO het uiteindelik op 30 April erken dat COVID-19 nie slegs deur druppeltjies oorgedra word nie. Die praktiese implikasie hiervan is dat tuisgemaakte lapmaskers en chirurgiese maskers nie veel bydrae om infeksie te voorkom nie. Data uit lande waar die dra van maskers nie verpligtend is nie, bevestig dié werklikheid. Die tyd het aangebreek dat burgers toegelaat word om te kies of hulle maskers wil dra of nie. Ouers moet lees en vrae vra – veral aangesien daar nou navorsing verskyn het oor die potensiële negatiewe impak van maskers op kinders.

Erge sensorskap, veral deur tegnologiereuse soos YouTube, Twitter en Facebook is aan die orde van die dag. Dokters wat inligting oor effektiewe vroeë behandeling bekend wil maak word stilgemaak. Dieselfde geld vir gesondheidspraktisyns wat gesprek wil voer oor die veiligheid van COVID-19-entstowwe en die risiko verbonde aan die uitrol van ’n mediese behandel op bevolkingsvlak voordat dit deur die gewone regulatoriese goedkeuringsprosesse gegaan het.

In Suid-Afrika is die owerhede doodstil oor immuunversterking en voorkoming en vroeë behandeling met bekende, veilige, medisynes.

Burgers sal hulself moet inlig en betrokke moet raak by instellings wat werk om praktiese oplossings op voetsoolvlak in werking te stel en verlore vryhede terug te wen. Die tyd het aangebreek om weer te lééf, natuurlik met verantwoordelikheid. Ons skuld dit aan ons kinders.

Hoop, Glo, Leef in Afrikaans.
Jou ondersteuning versterk Afrikaanse media. Hou jou taal op die lug.
Klik hier.


Current track

Title

Artist