KLANKKOERANT BYLAAG – OKTOBER 2023

Deur on

Saam met Esmarie Yssel

Die meeste mense werk 90-duisend ure in hulle leeftyd. Daarom is dit van kardinale belang om ’n loopbaan te kies wat jou persoonlikheid soos ’n handskoen pas.
Ons gesels met die redakteur van die Pretoria Historia-tydskrif, Riana Mulder.
‘n VF Plus lid van die Gautengse wetgewer, Amanda de Lange, sê die swak toepassing van gesondheidswetgewing in die provinsie kon moontlik ʼn rol gespeel het in die dood van ʼn laerskoolkind, nadat hy Vrydag ʼn pakkie beskuitjies by ʼn straatkosstalletjie naby die skool gekoop het. Amanda de Lange sluit by ons aan.
Pretorianers wat gereeld van Lynnwoodweg gebruik maak hou met belangstelling die verwydering van die pragtige laning Koorsbome – wat tot by die Gift Acres-koopkompleks strek – dop. Ons kry besonderhede by die DA-wyksraadslid, Pieter van Heerden.
Rissies was aan die brand toe hulle mekaar die stryd aangesê het om die status as die warmste rissie te wen. En Pepper X is nou die wêreld se warmste rissie wat meet op 2693-Scoville-hitte-eenhede. Hy het die Caroline Reaper onttroon. Ons sluit vanoggend by Lorraine Swanepoel van CocoVanilla Foods aan.
Volgens die e-Afval-vereniging van Suid-Afrika – eWasa – is elke Suid-Afrikaner verantwoordelik vir 6,2kg se elektroniese afval per jaar waarvan slegs 12% herwin word. Jan Vermeulen – ’n onafhanklike tegnologie-spesialis en algemene redakteur by MyBroadband – sluit by ons aan.
Die Kaapstadse metro het ’n terrein beskikbaar gestel vir inwoners en diegene wat te make het met die verwydering, hantering en bestuur van plantmateriaal wat met stompkopkewers besmet is om daarmee weg te doen. Die Chukkerwegsportkompleks in Kenilworth word van 23 Oktober af aangewend vir die solarisering van die kewergeinfesteerde materiale. Om meer uit te vind sluit Lorraine Gerrans by ons aan. Sy is die direkteur van omgewingsbestuur in die Kaapstadse metro.
Dis vandag Wêreldvoedseldag. Die eerste studie oor eetbare insekte is nou in Suid-Afrika gedoen en volgens navorsers van die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Limpopo en die Universiteit van Strasbourg in Frankryk kan sommige van die eetbare sprinkaanspesies wat in die natuur geoes word, moontlik geskik wees vir grootskaalse teling. Ons praat met dr. Bronwyn Egan, kurator van die Larry Leach-herbarium: Departement Biodiversiteit by die Universiteit van Limpopo.
Laerskool Eloff in Delmas word beskryf as ’n plaasskool tussen hoenderhok en mielieland, waar kinders koning kraai, kaalvoet en Afrikaans! Maar hulle is ook dié laerskool met ’n beheerliggaamvoorsitter en dié se vrou wie se liefde vir die skool hulle 1600 kilometer laat fietsry tussen Vanderbiljpark en Bloubergstrand. Ons gesels nou met Laerskool Eloff se skoolhoof, Louise van Niekerk.
Dis ons maandelikse insetsel met die Afrikaanse Wikipedia. Vandag gesels ons met die Afrikaanse Wiki se intern, Ankia Pepler oor die enig-in-sy-soort skryfkompetisie wat in Juliemaand afgeskop het.

Current track

Title

Artist