KLANKKOERANT BYLAAG – NOVEMBER 2023

Deur on

Saam met Esmarie Yssel

Dis die Nasionale Dierebeskermingsvereniging se Gee-Dinsdag. Ons praat met hulle nasionale woordvoerder, Jacques Peacock.
Riana Mulder, die redakteur van die Pretoria Historia-tydskrif sluit by ons vir ons maandelikse inloer.
Wanneer jou geliefdes emigreer word die klem meerendeels geplaas op diegene wat oor die waters na groener weivelde gaan, maar daar word byna vergeet van die verlies en trauma wat jy wat agterbly deurmaak. AfriForum Wêreldwyd bied op Donderdag 7 Desember ’n gratis kuieroggend aan vir enigeen met kinders of kleinkinders in die buiteland om ’n ondersteuningsnetwerk daar te stel vir dié wat dit nodig het. Vir meer sluit Sue-Ann de Wet by ons aan. Sy is die hoof van diaspora en aan die stuur van AfriForum Wêreldwyd.
Die digitale werksruimte hou geleenthede én uitdagings vir skoolverlaters in. Die werksmark ontwikkel deurgaans, omdat dit beïnvloed word deur tegnologiese vooruitgang en daarom is strategiese loopbaankeuses van uiterste belang. Ons gesels oor die digitale rewolusie en hoe daar daarby aangepas moet word.
Daar is gister in die Nasionale Vergadering gestem oor of wetgewing moet voorsiening maak vir die gebruik van kannabis vir ontspanningsdoeleindes, al dan nie. Ons kry besonderhede by Jaco Mulder, VF Plus-LP en die party se hoofwoordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste.
Suid-Afrika het ’n vleisstrategiedokument gepubliseer om die potensiaal van die land se uiteenlopende wildsvleisbedryf te ontgin om meer sebra-, krokodil, volstruis- en ander wildsvleis uit te voer, maar ook om die plaaslike verbruik van dié diere ’n hupstoot te gee.
Charlotte Gouws van Centurion is vanjaar weer besig met Ride for a Purpose. Sy sit skouer aan die wiel om aan eerskomende naweek se 94 punt 7-fietswedren deel te neem ten bate van die Hoedspruit Elephant Rehabilitation & Development-olifanthawe in Limpopo. HERD bied ’n tuiste aan olifante wat om verskeie redes wees gelaat is, maar doen ook hul bes om die olifante weer in die natuur te hervestig. Ons gesels met Charlotte.
Die Tshwane-metro bied eerskomende Saterdag saam met onder meer die Pitbull-federasie van Suid-Afrika ’n opvoedkundige byeenkoms, genaamd Paws for Wellness – by die Lyttelton-sportpark in Lyttelton Manor in Centurion aan om bewusmaking te skep oor verantwoordelike troeteldiereienaarskap. Ons gesels met Lehanda Rheeder van die Pitbull-federasie van Suid-Afrika.
Die eiendomsgroep, Redefine Properties, kweek hoop aan huiseienaars in Suid-Afrika deur te voorspel dat rentekoerse aanstaande jaar kan begin daal. Ons praat met die ekonoom, Dawie Klopper van PSG Consult.
Vanoggend kan ek welkome, opwindende nuus deel met ons liefhebbers van verhoogproduksies. Daar is weer ’n Afrikaanse musiekblyspel op die planke in die… Staatsteater. Wanneer laas het jy DAAR gaan sit vir ’n kultuurbederf? Die produksie, Lisa se Klavier, met vooraanstaande uitvoerende kunstenaars, soos Marlee van der Merwe, Altus Theart en Neels Clasen, vertel die storie van ’n konsertpianis wat by ’n kruispad staan… en die keuse wat hy maak sal sy lewe in uiteenlopende rigtings stuur.
Die VF Plus in die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit in Noordwes – wat onder meer Klerksdorp bedien – het tydens ʼn raadsvergadering daarop aangedring dat bywette oor die regulering van kleuterskole en dagsorgsentrums wat reeds in Oktober 2022 opgestel is, dringend voor die raad moet dien vir goedkeuring en promulgering.
Kranige breiers van reg oor die land is aan die brei aan nagenoeg 2 800 paar borsprosteses vir vroue wat hul borste weens kanker verloor het. Solidariteit Helpende Hand het die projek in 2021 van stapel gestuur.

Current track

Title

Artist