KLANKKOERANT BYLAAG – JANUARIE 2024

Deur on

Aangebied deur Esmarie Yssel. Vir navrae e-pos: esmarie@klankkoerant.co.za

Ons het twee weke gelede begin gesels oor noodhulp vir baba’s en vandag sit ons die gesprek voort in episode 3. Tarien Cooks van AfriForum se rampbestuurseenheid sluit weer by ons aan.
Loftus Park – in Arcadia, Pretoria – waarvandaan Pretoria FM uitsaai – gaan eerskomende Saterdag anders lyk en heelwat anders klink, want hondeliefhebbers gaan van heinde en verre daar byeenkom vir Loftus Bark… saam met hulle viervoetige vriende. Henco Bouwer, Loftus Park-bemarker, sluit by ons aan.
Dis tans Rooigety aan die Kaapse kus en lede van die publiek van heinde en verre spog met hulle foto’s van die rooi see op sosialemediaplatforms. Maar hoewel die rooi water indrukwekkend lyk, word die publiek gewaarsku om nie enige vis of seelewe wat langs die Tuinroete se strande uitspoel te eet nie, omdat dit giftig kan wees. Ons praat met Meindertjan Rebel, kusingenieur van die Stad Kaapstad se kusbestuur.
Ons eie Riaan Grobler gesels oor sy boek, Geheime op Philadelphia. Nou beskikbaar by alle vooraanstaande boekwinkels.
Ons het verlede Donderdag begin gesels oor noodhulp vir baba’s en vandag sit ons die gesprek voort. Tarien Cooks van AfriForum se rampbestuurseenheid sluit weer by ons aan.
Dis D-dag vir matrikulante wat sedert die skole verlede maand gesluit het op hete kole gewag het vir hulle matriekuitslae. Vandag word diegene wat die Onafhanklike Eksamenraad se eksamen afgelê het se uitslae vrygestel en vanaand om middernag kry die res van die land se matrieks die groot nuus. Wat as jy matriek druip? Vanoggend wil ons vir jou sê dis nie naastenby die einde van die pad vir jou akademiese reis nie. Ons gesels met dr. Cobus Oosthuizen, die dekaan van nagraadse besigheidsprogramme by Boston City Campus.
Koffie is die petrol in baie van ons se tenks. Vandag is dit Wêreldkoffiedag. En dié beker stomende welriekende kafeïen is nie net ’n lafenis vir die siel nie, dis ’n kultuur wat mense byeenbring. Ons gesels oor koffie en sy bekoring met Theo le Roux van CupoCafé Coffee Bar in Montana in Pretoria-Noord.
Twee boewe het – toe hulle by ’n huis in Montagu in die Wes-Kaap ingebreek het – nie besef dis die woning van die omgewing se slangvanger wat self ’n paar slange as troeteldiere aanhou nie… Gerrie Heyns, bekende slangvanger, het die een dief wat hy in sy slangvertrek betrap het, toe daarbinne toegesluit. Ons gesels met Gerrie.
Dis vandag terug hok toe vir al die skoolgaande kinders ná ’n lekker lang Desembervakansie. Dis groot opwinding vir dié kinders wat hulle vriende nie tydens die vakansie te siene gekry het nie en krokodiltrane vir baie graad-eentjie parrabeentjies wat groot skool toe gaan. Vanoggend gesels ons met die Transoranjeskool vir Dowes in Pretoria vir wie daar ’n groot jaar voorlê. Dié skool verskaf gespesialiseerde onderrig aan dowe kinders vanaf 3-jarige ouderdom tot graad twaalf.
Volgens die weerkenner, Johan van den Berg, bestaan daar ’n groot moontlikheid dat siklone of tropiese storms in die volgende twee maande kan ontstaan. Februarie is gewoonlik die middel van die tropiesesikloonseisoen. Johan sluit by ons aan.
Kayden Mulder, wie se ma ’n paar jaar gelede fondse ingesamel het om hom in die Drakensberg-seunskoorskool te kan hou, is aangewys as die hoofseun van dié musiekskool. Kayden is in 2018 gekeur om vir die koor ’n oudisie af te lê… Hy het in graad vier daar begin skoolgaan en het geblom, maar toe staan hulle sy pa aan die dood af en sy ma kon nie op haar salaris alleen sy skoolfondse bekostig nie. Maar toe maak sy plan en die openbare fondsinsameling het dit moontlik gemaak om in die skool en koor te bly. En nou is hy op 14-jarige ouderdom dié gesogte skool se hoofseun. Ons gesels vanoggend met hierdie uitblinker.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat het ’n skrywe uitgestuur waarin die onwettige jag met honde op plase opnuut uitgelig word. In dié skrywe word die probleem herbevestig en daarin word ook gesê dat dit nodig is om polisielede te herinner aan die wetgewing wat hierdie strafregtelike oortreding verbied waarvolgens die lede kan optree. Ons gesels met dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou.
Vandag word Erfenisskattedag regoor die wêreld gehuldig. Die Afrikaner met sy ryk geskiedenis kan met trots spog met ons erfenisskatte regoor die land. Vandag is Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Voortrekkermonument, in die Bylaag-ateljee.
Ons kry vandag noodhulpwenke vir babas by Tarien Cooks van AfriForum se rampbestuurseenheid.
Wanneer ons vir mekaar ’n voorspoedige 2024 toewens kom dié vraag gereeld na vore: En? Is jy reg vir 2024? Baie mense se reaksie is: Die vraag is of 2024 reg is vir my! Maar nie almal is altyd so reg soos ’n roer vir ‘n nuwe jaar nie. Hoe berei ’n mens jouself sielkundig voor vir ‘n nuwe jaar?
Jy dink dalk jy doen goed wanneer jy ander mense se diere voer wat opgewonde lyk om bederfies te kry, maar kenners meen dat dit gevaarlik kan wees as jy iemand anders se honde, katte of ander troeteldiere voer, omdat dit hulle dieet, gesondheid en gedrag negatief kan raak. Maak dit jou de vieste in as mense by jou kom kuier en jou troeteldiere voer – sommer so van hulle bord af? Hoe hanteer jy so ’n situasie? Ons gesels vanoggend met dr. Marinell Breytenbach, veearts by die Valley Farm-dierehospitaal in Pretoria.
Aan die einde van die maand gaan die Vaal-voëlklub weer vroeg uit die vere wees vir die eerste watervoëlsensus van 2024 op die Vaalrivier… Dit staan bekend as die Coordinated Waterbird Count, CWAC, uitgespreek as “quack”. Diegene met ’n spesiale belangstelling in geveerde vriende is welkom om deel van hierdie dag te wees wat op Saterdag 27 Januarie plaasvind. Ons gesels met Rina de Klerk van die Vaal-voëlklub.
Die sogenaamde “vader” van die Rooivalk-aanvalshelikopter en die stigter van Aerosud Aviation, dr. Paul Potgieter, is in Desember in ’n motorongeluk oorlede. Dr. Potgieter het ’n kernrol vertolk in die ontwikkeling van die Atlas-lugvaartkorporasie se Rooivalk-tweesitplekaanvalshelikopter in die negentien tagtigs.

Current track

Title

Artist