KLANKKOERANT BYLAAG – FEBRUARIE 2024

Deur on

Aangebied deur Esmarie Yssel. Vir navrae e-pos: esmarie@klankkoerant.co.za

Liefde word vir vrouens van kleins af verpak as ’n idilliese gebeurtenis waartydens die ridder op die wit perd jou van jou voete af vee en jou lewe kom ophelder soos ’n prinses in ’n sprokiesverhaal. Maar die liefde is inderwaarheid ’n werkwoord en beginsel van opoffering en elke dag ’n keuse om een persoon vir die res van jou lewe lief te hê. Vanoggend gesels ons oor verhoudings en hoe om reg te maak wanneer kanse verspeel is. Dr. Lize Naudé, ’n sielkundige met privaat praktyke in Northcliff en Kyalami in Gauteng, sluit by ons aan.
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans, VivA Afrikaans, bied vir uitblinkerhoërskoolleerlinge ’n toer aan, maar nie ’n sport- of koortoer nie. VivA neem die jongmense – wat die toekoms van Afrikaans is – op ’n taal-, kuns- en tegnologietoer. Ons gesels met VivA se besturende direkteur, Marlie Coetzee.
Radio is dié medium wat jou enige plek, enige tyd op ’n verbeeldingsavontuur kan neem. Suid-Afrika se eerste radiostasie, volgens oorlewering, was JB Calling, wat in Johannesburg begin uitsaai het op 1 Julie 1924, wat gevolg is deur ’n Kaapstad-baseerde stasie in 1924 én ’n derde in Durban dieselfde jaar. En radio het groot persoonlikhede opgelewer wat stil huise in huise van geselskap, samesyn en musiek omskep het. Vandag gesels ek met een van daardie groot persoonlikhede en dis Heinrich Marnitz wat hier by Pretoria FM uitsaai.

Current track

Title

Artist