fbpx

Kaderontplooiing – die groot klugspel van die ANC

Deur on Aug 1, 2019

Nuuskommentaar: 1 Augustus

Groot gewag is gemaak van die voormalige president Jacob Zuma se getuienis (of gebrek daaraan) voor die Zondo Kommissie na Staatskaping. Dit was egter sy getuienis oor die ANC se Ontplooiingskomitee wat sommige se nekhare laat regop staan het. Hy het op Woensdag 17 Julie 2019 voor die Zondo-kommissie onder andere gesê “lojaliteit aan die ANC is een van die faktore wat oorweeg word wanneer individue vir die regering en ondernemings in staatsbesit aangestel word.” Die stelling is sondermeer aanvaar terwyl dit in werklikheid ʼn kerndilemma verwoord van die huidige regering se jarelange ondermyning van die Suid-Afrikaanse grondwet.

Met die ANC se jarelange beleid van kader-ontplooiing word die Suid-Afrikaanse grondwet al vir jare gruwelik geminag. Art 197 van die Grondwet wat handel oor die Staatsdiens het die volgende uitdruklike bepaling (3) Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon ‘n bepaalde politieke party of saak steun nie. Hierdie bepaling maak korte mette met kader ontplooiing wat as ANC beleid voorgehou en dus ongrondwetlik toegepas word. Die ANC se eie ontplooiingskomitee is dus in wese ongrondwetlik met sy optrede en aanbevelings. Zuma se erkenning hiervan is verdere ondersteuning van die beginsel dat hy die party (dit wil sê die ANC nog heeltyd hoër ag as die grondwet en die land.) Sy bewind was trouens gekenmerk deur optredes en uitsprake waar hy die party groter en hoër ag as die grondwet.   

Dat die ANC se ontplooiingskomitee problematies geraak het, is ook in getuienis deur oud-minister Barbara Hogan voor die Zondo Kommissie gelewer toe sy sê dat die ontplooiingskomitee van die ANC dikwels bevooroordeeld was en haar onder druk geplaas het om sekere individue aan te stel.

Met die ANC se toepassing van kader-ontplooiing het die ANC die staatsdiens en ander semi-staatsinstellings absoluut verpolitiseer met rampspoedige gevolge soos Staatskaping, korrupsie en wanbestuur.  ‘n Eens suksesvolle staatsinfrastruktuur is deur wanbestuur, gebrekkige bestuur of doodeenvoudige onbekwaamheid laat verval omdat lojale party kaders in posisies van verantwoordelik geplaas is waarvoor hulle nie opgelei is, nie ervaring het nie maar lojaal aan die ANC is.  Vir hierdie klugspel moet die ANC te volle aanspreeklik gehou word want ervaring het geleer dat die ANC ook nie die kaders aanspreeklik hou nie, maar eerder herontplooi. In erge gevalle van wanbestuur word swak en onbevoegde bestuur net gesirkuleer en nie uit die stelsel verwyder nie. Trouens van die swak kaders het later ook ambassadeurs geword met ewe rampspoedige gevolge. Dit is ‘n ernstige bedreiging vir enige demokrasie waarteen daar telkens in die verlede gewaarsku is.    

Om uit hierdie moeras te kom sal ons land ʼn radikale morele transformasie moet ondergaan. Die uitdaging vir ons – en by uitstek vir ons leiers – is om afstand te doen van die ongrondwetlike beginsel van party lojaliteit  en veel eerder te fokus op meriete, kundigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid.

Suid-Afrika se belange is op die spel en indien ons eerlik is oor ‘n oop samelewing dan moet die letter en gees van die Grondwet nagekom word. Die ANC het met al die ontblotings voor die Zondo Kommissie ‘n gulde geleentheid om drastiese beleidsaanpassings te maak waarvan die belangrikste is om die ongrondwetlike beleid en toepassing van kader-ontplooiing met onmiddellike effek te staak. Dit is nou as die Zondo Kommissie nie in elk geval met so ʼn aanbeveling gaan kom nie.

Die staat verdien professionele amptenary wat deur baie jare se kundigheid en ervaring in die topbestuur kan dien en nie as gevolg van politieke gedienstigheid en onderdanigheid nie. Op die stadium is daar ʼn wolk van verdenking oor elke staatsamptenaar omdat die vraag tereg gevra kan word of die persoon op meriete daar is of omdat hy of sy die stempel van goedkeuring ontvang het deur die ANC se ontplooiingskomitee.  Al wat die ANC deur die beleid reggekry het was om dienslewering ten gronde te laat gaan, maar ten minste lojale party gedienstigheid te verseker.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist