11 Oktober 2023
Die Gautengse adjunk-regterpresident, Roland Sutherland, sê die brandveiligheidsrisiko’s by die Johannesburgse hooggeregshof – wat daartoe gelei het dat nooddienste bevind het dat dit onveilig sou wees om brandbestryders die gebou in te stuur in geval van ‘n brand – het nou ‘n lewensgevaarlike situasie geword.
Sutherland sê daar rus ‘n morele verantwoordelikheid op hom om toe te sien dat die honderde mense wat in die gebou werk – asook dié wat daagliks die gebou besoek – veilig is.
Hy het besluit om die gevare in die oopte te bring aangesien hy voel dat hy nie kan wag totdat daar ‘n brand uitbreek en dan later verskonings wil maak nie.
Die regter se vermaning volg op ‘n reeks brande in die Johannesburgse middestad wat die afgelope tyd tot aansienlike lewensverlies gelei het.
Brandbestryders in dié metroraad word na raming na tussen agt en tien brande per dag ontbied – wat veldbrande uitsluit.