Johannesburg – van goudstad na rioolstad: Die verhaal is dieselfde vir soveel dorpe en stede regoor Suid-Afrika

Deur on

Nuuskommentaar: 13 November 2023

Deur: Jan Bosman

Op Sondag 5 November het die Soweto Marathon plaasgevind.

Beeldmateriaal is op sosiale media versprei van atlete in die 21km been van die marathon deur ‘n vuil rommelbesaaide straat moes hardloop en op ʼn punt hul weg vind deur rou riool wat in die straat uitstroom.  

Die gedagte met die Soweto Marathon is volgens die African Bank, een van die hoofborge van die Soweto Marathon, om atlete verby die ikoniese landmerke van Soweto te neem, naamlik die Chris Hani Baragwanath Hospitaal, Walter Sisulu Square, die Regina Mundi Katolieke Kerk, Credo Mutwa Cultural Village, Morris Isaacson High School die 16 Junie Memorial Acre, Vilakazistraat wat 2 Nobelpryswenners opgelewer het  en die Hector Pieterson-gedenkteken. Die enigste blywende nagedagtenis van die atlete, is waarskynlik nie die beoogde ideaal van die borge nie, maar eerder die stank van die rou riool, die vuil van ʼn stad se inwoners wat aan hulle tekkies kleef.

Onder ANC beleg het Johannesburg, eens die stad van goud, nou ʼn ander status begin kry. Waar goud uit die mynskagte onder die stad, rykdom en ontwikkeling gebring het, is die gebarste pype en verval in infrastruktuur nou die gesig van Johannesburg se toenemende armoede.

Geboue in die middestad wat gekaap is word nou bewoon deur desperate mense, hoofsaaklik buitelanders, wat net ʼn dak oor hulle kop soek. Op 31 Augustus 2023 is 76 mense dood in ʼn verwoestende brand in Albertstraat in ʼn gekaapte gebou waarin mense gebly het.  Volgens die Gauteng Polisiekommissaris is daar meer as 700 geboue in Johannesburg wat gekaap is. Hoeveel potensiële geboue is wagtend op een vonk in ʼn kruitvat om nog ʼn tragedie en doodsakker te veroorsaak? Op 19 Julie het ʼn gasontploffing onder Breestraat gelei tot oneindige skade aan geboue en ander infrastruktuur.  

Inwoners van doodnormale woonbuurte rondom Johannesburg kan almal getuig van die oneindige frustrasie met slaggate, dae aaneen sonder water en of elektrisiteit. ʼn Opposisie raadslid lig die inwoners in haar wyk in dat hulle nie meer individuele klagtes of foute mag eskaleer na senior amptenare by CityPower en Johannesburg Water nie. Dit raak klaarblyklik te veel. Aandag word slegs gegee aan blokke of woonbuurte wat probleme ervaar.

Een van die groter sekuriteitsmaatskappye het ʼn helikopter wat nou gereeld op daaglikse basis patrollie vlieg oor die noordelike voorstede ten einde ʼn sigbare gesig aan die stryd teen misdaad te gee. Windsor, in dieselfde noordelike voorstede was eens ʼn gesogte buurt vir jongmense en bejaardes vanweë die aantal bekostigbare en netjiese woonstelle. Dit staan nou bekend as klein Nigerië, met verval, misdaad en dwelms as uitkoms. ʼn Onderwyseres, die 34-jarige Kirsten Kluyts is tydens ʼn georganiseerde MyRun stap en drafroete op Sondag 29 Oktober naby Sandton aangeval, by ʼn wal afgesleep, gestroop van al haar besittings en klere en toe vermoor.  Sy word net nog ʼn misdaadstatistiek.

Dit alles bring mens noodwendig by die onthou jy gesprek. Daar was ʼn tyd wat studente laat in die aand kon gaan kuier en fliek in Hillbrow en Braamfontein, ʼn tyd toe erwe nie omhein was nie en krag en waterprobleme ʼn absolute uitsondering was, waar parke die plek was waar mens die gelag van kinders gehoor het, waar strate en sypaadjies in stand gehou was en skoon was, waar verkeersligte gewerk het, daar straatligte, straatnaamborde en ander verkeerstekens was, waar verkeerspolisie sigbaar die veerkeersoortredings gestraf het, waar bure mekaar geken het en ʼn mens nie elke keer gewonder het of jou kar nog daar gaan wees waar jy dit parkeer het nie. Dit was nie so lank terug nie. 

Johannesburg is genoem na twee amptenare van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR); Johannes Meyer en Johannes Rissik en was eens Afrika se rykste stad. Die stad gebou op goud. Dit het egter oornag ʼn vuil en gehawende plek geword. Pas moes R768 miljoen wat nie aan kapitaalprojekte spandeer is nie, teruggegee word. Ons betaal meer vir erfbelasting en dienste wat nie gelewer word nie. Sedert 2016 het die Stad Johannesburg as gevolg van politieke opportunisme reeds nege burgemeesters gehad.  Die stad wat eens gespog het dat ʼn Wêreldklas stad in Afrika (Worldclass African City) se leuse is “Diens met Trots”.  Die ANC se transformatisme deur kaderontplooiing het nie net gelei tot staatskaping nie, maar ook stadskaping en dorpskaping. Die effek is dieselfde. Grootskaalse vervanging van mense in sleutelposte wat kundigheid en ervaring verg deur die aanstelling van onbevoegde kaders en ongebreidelde korrupsie.  

Op sy webwerf waar Johannesburg spog met sy ontwikkeling uit die geskiedenis word vertel dat “Johannesburg vinnig gegroei het van ‘n klein nedersetting na ‘n volwaardige stad. Dit het gelyk of niks sy groei kon keer nie, nie eers die Anglo-Boereoorlog nie. In daardie onstuimige tye, en daarna, is Johannesburg nog altyd erken as die goue kloppende hart van Suid-Afrika.” Politieke eiebelang het egter nie net die groei gestop nie, maar dit vinnig omgekeer ook. Van goudstad na rioolstad. Johannsburg se verhaal is die verhaal van soveel dorpe en stede regoor Suid-Afrika.


Current track

Title

Artist