fbpx

Israel toenemend in die spervuur

Deur on Jul 31, 2019

Nuuskommentaar: 31 Julie

Die Verenigde Nasies se Ekonomiese en Maatskaplike Raad het verlede week ‘n mosie aanvaar waarvolgens Israel veroordeel word vir die beweerde ondermyning van vroueregte in Palestynse gebiede wat onder die beheer van Israel is. Slegs die VSA en Kanada het teen die mosie gestem terwyl nege lande insluitende Duitsland en die Verenigde Koninkryk buite stemming gebly het.

Vier en vyftig lidlande van die Verenigde Nasies het sitting op dié Raad, insluitende lande soos Saoedi-Arabië, Iran en Pakistan waar vroueregte ernstiger geskend word as in Palestynse gebiede onder die beheer van Israel. Tog het dié belangrike instelling van die VN in sy werksaamhede verlede week besluit om slegs Israel vir die skending van vroueregte uit te sonder. Selfs meer skokkend is die feit dat lande soos Denemarke, Nederland, Frankryk, Ierland, Noorweë, Armenië en Rusland ten gunste van die mosie teen Israel gestem het.

In 1948 was die globale linkse beweging groot ondersteuners van die oprigting van Israel as Joodse staat. Selfs Rusland het dit ondersteun. Steun vir Israel het veral gekom uit linkse groepe en politieke partye in Europa en die VSA.

Vandag sien ons presies die teenoorgestelde afspeel. Susie Linfield, ‘n professor in die Departement Joernalistiek by die New York Universiteit het sopas ‘n opspraakwekkende boek gepubliseer wat fokus op groeiende anti-Semitisme in die linkse beweging in die VSA. Sy beskryf die stelselmatige oorgang van steun na afkeur in die staat Israel wat oor die afgelope paar dekades in die linkse politieke beweging in die VSA voltrek is.

Ilhan Omar, die omstrede lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, wat onlangs in die nuus was omdat President Donald Trump voorgestel het dat sy na Somalië, waar sy gebore is, moet terugkeer omdat sy voortdurend kritiek teen die VSA uitspreek, is een van talle politici in die Demokratiese Party wat herhaaldelik anti-Semitiese uitsprake maak. Die opkoms van anti-Semitisme in die Demokratiese Party skep tans sterk verdeeldheid in die party. Die voormalige burgemeester van Chicago, Rahm Emanuel, het onlangs in die nuustydskrif, The Atlantic, Omar en ander van sy kollegas in die Demokratiese Party se anti-Semitisme sterk veroordeel.

Die Amerikaanse Departement van Justisie het drie weke gelede ‘n spesiale konferensie oor die stryd teen anti-Semitisme aangebied. Trump se Prokureur-Generaal William Barr het tydens dié konferensie gewys op die toename in aanvalle op Jode in die VSA. Die Trump-administrasie maak ‘n argument uit dat linkse retoriek vir die toename in anti-Semitisme verantwoordelik is.

Ook in Europa het dieselfde verskuiwing in sentiment jeens Israel en gevolglik Jode plaasgevind. In Brittanje word die Arbeidersparty in twee geskeur weens anti-Semitisme in die party met die partyleier Jeremy Corbin wat self van anti-Semitisme beskuldig word. In Europese lande soos Nederland, Duitsland, België en Frankryk is linkse politici voortdurend besig om anti-Semitistiese boodskappe op sosiale media te verkondig.

Een van die oorsake van die linkse swaai teen Israel is natuurlik die politieke verskuiwing na regs wat sedert die opkoms van die Likoed-party in die 1970’s in Israel plaasgevind het. In hierdie opsig is die Amerikaanse regering se steun aan Israel belangrik. Israel is steeds vandag ‘n indrukwekkende verskynsel en terwyl dié land min internasionale vriende het kan skakeling deur Afrikaners met Israel groot geleenthede inhou.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist