Is Transito-rooftogte ’n nuwe vorm van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika?

Deur on

Nuuskommentaar: 17 November 2023

Deur: Charné Mostert

In die afgelope paar jaar was Suid-Afrikaners getuies van ’n ontluikende verskynsel –  transito rooftogte – ’n nuwe vertakking van georganiseerde misdaad. Hierdie gedurfde aanvalle op gepantserde voertuie wat kontant vervoer, het toenemend plaasgevind en wys op ’n brutale verontagsaming van wet en orde. Wêreldwye georganiseerde misdaad is ’n ontwikkelende, winsgedrewe aktiwiteit wat nuwe markte en nuwe tegnologieë omhels. Dié misdaad verwys na ’n breë spektrum van voortdurend veranderende aktiwiteite wat vanaf tradisionele hiërargieë beweeg het na ’n meer buigsame, netwerk-gebaseerde vorme van misdaad. Die nuutste statistieke wys daarop dat transito rooftogte met byna 30% vanaf 2022 gestyg het. Hierdié persentasie verwys na meer as 250 transito rooftogte wat alleenlik in 2023 plaasgevind het.

Dit is al meer kenmerkend dat hierdie rooftogte geklassifiseer kan word as georganiseerde misdaad omdat dit ’n voortdurende kriminele onderneming is wat rasioneel werk om wins te maak uit onwettige aktiwiteite. Die organisasie bestaan uit drie of meer individue wat daarop uit is om ten minste een ernstige misdaad te pleeg, om dus direk of indirek, te baat uit die misdaad. Die misdaad se voortgesette bestaan word gehandhaaf deur gebruik te maak van korrupte openbare amptenare sowel as die gebruik van intimidasie, dreigemente, of geweld om hul operasies te beskerm. Hierdie kriminele aktiwiteite wat beplan en beheer word deur magtige groepe word op ’n groot skaal uitgevoer, presies soos transito-rooftogte bewys. Die rowers, dikwels toegerus met swaar artillerie en militêre-graad wapens, voer sorgvuldig planne uit. Hierdie dade plaas nie net die lewens van die betrokke veiligheidspersoneel in gevaar nie, maar hou ook ’n beduidende bedreiging vir die publiek se veiligheid in.

Dié tendens onder die oortreders het meer aggressief geword omdat die wins uiters belangrik is. Hierdie organisasies is hoogs georganiseerd en beplan vir maande aan ’n rooftog – dit laat ’n mens wonder hoeveel van hierdie groepe daar bestaan aangesien die misdaad koers van transito rooftogte die hoogte in skiet. Suid-Afrika se wortels van mag is deurtrek met korrupsie. Dié korrupsie maak dit moontlik vir georganiseerde misdaad om te floreer en daar is al ’n beduidende aantal gevalle op rekord, waar die kriminele informante ’n polisie, of sekuriteitsmaatskappy verbintenis het.

Die kriminele agter hierdie rooftogte is kompleks en spruit uit ’n kombinasie van sosio-ekonomiese faktore, georganiseerde misdaad netwerke, en ’n kultuur van strafloosheid. Hoë werkloosheid vlakke, gekombineer met ekonomiese ongelykhede skep ’n vrugbare teelaarde vir werwing deur misdaad organisasies wat op soek is na voetsoldate vir hul skelm aktiwiteite. In hierdie ruimte kan die idee van vinnige rykdom mense op ’n gevaarlike pad lei.

Gemeenskapsbetrokkenheid en proaktiewe maatreëls om die grondoorsake van misdaad aan te pak, is kritieke komponente van ’n omvattende strategie. Belegging in opvoeding, werkskepping, en sosiale programme kan help om die siklus van armoede te stop wat dikwels betrokkenheid by georganiseerde misdaad aanmoedig. Deur volgehoue pogings om kriminele netwerke te ontbloot, gekoppel aan inisiatiewe wat gemik is op die ophef van gemeenskappe, kan Suid-Afrika hoop behou op ’n toekoms waar die bedreiging van georganiseerde misdaad nie langer ’n skaduwee van vrees oor die land werp nie.


Current track

Title

Artist