Is Kuba dan Suid-Afrika se 10e provinsie??

Deur on Mei 13, 2022

Nuuskommentaar: 13 Mei 2022

Deur: Jan Bosman

Art 103 van die Suid-Afrikaanse grondwet bevestig dat Suid-Afrika 9 provinsies het en die hele hoofstuk 6 van die grondwet handel oor die verpligtinge en bevoegdhede van die 9 provinsies. Iemand wat nie ʼn Suid-Afrikaner is nie sal waarskynlik in die laaste maande en veral die laaste weke onder die wanindruk verkeer dat Kuba ʼn 10e provinsie van die Republiek van Suid-Afrika is.

Dit volg nou nadat die die Gauteng Hooggeregshof die regering se aansoek om verlof tot appèl teen AfriForum se interdik teen ʼn donasie van R50 miljoen aan Kuba met koste van die hand gewys het. Vroeër vanjaar verneem ons dat daar reeds in 2021 R84,6 miljoen aan Kuba geleen is. In die Covid-19 tyd van streng inperking het die Suid-Afrikaanse weermag ook Kubaanse medisyne Heberon interferon Alfa 2B van nagenoeg R260 miljoen ingevoer sonder die toestemming van Suid-Afrikaanse gesondheidsowerhede.

Intussen volhard sommige provinsies om Suid-Afrikaanse studente na Kuba te stuur vir mediese opleiding en kos dit volgens die Gauteng regering R368 024 per student per jaar. In 2019 was daar 264 studente.

Ons word ook herinner aan die onlangse debakel toe 8 van die 12 lede van die Suid-Afrikaanse lugmag wat deelneem aan Projek Thusano in Kuba  in Augustus verlede jaar nie ʼn primitiewe oogtoets kon slaag nie. Hulle moes toe vir 5 maande gras met pangas sny voordat hulle in Maart vanjaar met ʼn huurvlug – een van twee in die tyd – teen miljoene Rande kon terugkom Suid-Afrika toe.  (Lees hier)    

Na die onlangse hofuitspraak  oor die donasie is Naledi Pandor breedsprakig lojaal aan Kuba as sy sê “Suid-Afrika moet in eenheid met ons broers en susters in Kuba optree.” Sy herbevestig dan ook dat Kuba lojaal was in die vryheidstryd en dat hulle daarom nie nou versaak kan word nie.  

Die obsessie met Kuba is natuurlik niks nuut nie en het Suid-Afrikaanse belastingbetalers oor baie jare direk en indirek finansieel gehelp. Die simboliese waarde word natuurlik ook uitgebuit.   In 2017 onthul die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, ʼn standbeeld ter waarde van R3 miljoen van Fidel Castro in Bloemfontein. Dit is seker gepas dat Fidel Castro in die middel van Bloemfontein waak oor die munisipale gemors as uitvloeisel van ʼn mislukte beleid van kaderontplooiing en staatskaping.

Die simboliese koppeling word ook gemaak deur die  Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu wat gereeld met ʼn semi-militêre uniform en Suid-Afrikaans/Kubaans vlae op haar baret tydens nuuskonferensies verskyn.

Ou politieke lojaliteite is ook beloon met die regering wat sonder om ʼn oog te knip astronomiese kostes aangaan om Kubaanse dokters na Suid-Afrika te bring en hulle hier te hou. Volgens sommige berigte was die koste van die 187 Kubaanse gesondheidswerkers sowat R439 916 337. Dus ʼn halfmiljard Rand in ʼn tyd wat ons ekonomie self noustrop trek. Maar hier is ʼn ander onvertelde storie. Die gemiddelde koste van die Kubaanse mediese span na Suid-Afrika beloop R2,35 miljoen per jaar per persoon of sowat R195 833 per maand. Omgeskakel is dit sowat $10 500 per dokter per maand. Tans is die gemiddelde inkomste in sosialistiese Kuba (dokters ingesluit) slegs $44 per maand. Dit is dus nie Kuba se goeie wil of goeie verhoudinge met Suid-Afrika nie. Allermins. Kuba het volgens The Guardian van November 2019  https://www.theguardian.com/global-development/2019/nov/08/cuba-secret-deal-to-monetise-medics-working-in-qatar  ʼn soortgelyke reëling met Katar. Die Kubaanse dokters in diens in die hospitale in Katar ontvang slegs 10% van die salaris (soortgelyk as wat tans in Suid-Afrika betaal word) en die res van die salaris word aan die Kubaanse regering betaal. Dit is dus ʼn goeie inkomstebron vir die Kubaanse regering. Volgens dieselfde berig stuur Kuba dokters regoor die wêreld sedert die vroeë 1960’s. Volgens die berig is daar tans ongeveer 30 000 Kubaanse dokters en verpleegkundiges wat in 60 lande werk. Die menshandel in mediese kundigheid bring na berig word jaarliks $6–$8 miljard in inkomste vir die Kubaanse regering.  Die Suid-Afrikaanse regering kon nie wag om belastingbetalersgelde te gebruik om Kuba te beloon nie.

In Maart en April in 2021 is 21 Kubaanse ingenieurs ook na Suid-Afrika gebring wat nagenoeg R18,3 Miljoen per jaar kos (Sommige berigte praat van R64 miljoen) Die invoer van die Kubaanse ingenieurs was volgens Minister Lindiwe Sisulu gebaseer op “hul seldsame en eksklusiewe kundigheid met betrekking tot die instandhouding en verlenging van die lewensduur van water- en sanitasieverwante infrastruktuur”.

Die Kubane wat nie die plaaslike omstandighede ken en verstaan nie word teen groot koste ingevoer terwyl plaaslike kundigheid en ervaring gereed staan om te help. Dit is al telkemale in gesprekke en interaksie met die regering en die ANC uitgelig en aangebied. Skynbaar tel plaaslike kundigheid nie. Suid-Afrikaners worstel nie net met Kaderontplooiing nie maar moet ook Kubaanse ontplooiing duld.    

Die ANC-regering het ʼn misplaasde lojaliteit teenoor Kuba en is nou verweef met hulle verromantisering van hulle “struggle”- geskiedenis. Ons sien ook dieselfde in die buitelandse beleid teenoor Rusland. Kuba is egter allermins die eiland paradys wat soos Naledi Pandor dit stel wat deur “onwettige blokkades en Amerikaanse sanksies doodgewurg word” nie. Die Kubaanse regering gaan volgens Human Rights Watch voort om feitlik alle vorme van onrus en openbare kritiek te onderdruk en te straf. In Julie 2021 het duisende Kubane die strate ingevaar in ongekende betogings om te protesteer teen beperkings op regte, skaarste aan voedsel en medisyne, en die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie. Die Kubaanse regering het volgens Human Rights Watch met brutale onderdrukking gereageer. 

Is dit slegs ʼn onlangse verskynsel?   In September 2020 skryf Prof Hermann Giliomee  –  “My vraag is: rondom 1980, aan die begin van die laaste stadium van die stryd tussen die ANC en die regering, watter soort demokrasie en menseregte is deur baie leidende figure in die ANC voorgestaan? En my antwoord is: die “demokratiese sentralisme” van samelewings soos die USSR en Kuba. Hierdie tipe demokrasie word vandag glad nie meer as demokrasie beskou nie. Die menseregte van Kuba en die USSR was ’n bedrogspul. Trouens, die Freedom House-gradering van 1980 plaas Kuba en die USSR wat menseregte betref, in ’n laer posisie as apartheid-Suid-Afrika!”

Dit is die Kuba wat die Suid-Afrikaanse regering aanhang en ondersteun met Suid-Afrikaanse belastingbetalersgelde. Dit is die Kuba wat verdedig word en wie se leiers deur standbeelde vereer word. Suid-Afrika kan allermins bekostig om met vrygewigheid teenoor Kuba te reageer. Kuba is nie ʼn 10e provinsie van Suid-Afrika nie en dit is tyd dat Suid-Afrikaanse prioriteite soos armoede en veiligheid voorrang geniet bo ou politieke en ideologiese lojaliteite.


Current track

Title

Artist