fbpx

Is Cyril Ramaphosa enigsins beter vir Suid-Afrika as Jacob Zuma?

Deur on Jul 30, 2020

Nuuskommentaar: 30 Julie

Deur: Willie Spies

Is Cyril Ramaphosa enigsins beter vir Suid-Afrika as Jacob Zuma?

Vier maande gelede sou meeste Suid-Afrikaners nog instemmend hierop geantwoord het, alhoewel ‘n klein minderheid skepties was.

Ramaphosa se verkiesing as ANC president 955 dae gelede, met ‘n skrale meerderheid van 180 stemme uit 4700 kongresgangers het ‘n gees van afwagting geskep. Almal het ‘n opruiming van die korrupsie wat so inherent deel van die regering was verwag, die afdanking van onbekwame ministers, die regruk of verkoop van sukkelende staatsondernemings en ‘n breuk met die met die rassistiese beheptheid met onteiening van grond sonder vergoeding.

Diegene wat hoopvol was, het vas geglo die term “wit monopolie kapitaal” maar net ‘n etiket was wat deur Bell Pottinger geskep is om met beeldpoetsery die destyds beleërde Jacob Zuma en sy Gupta-vriende se basse te red.

Daar was inderdaad aanvanklike, belowende tekens. Die vroeë uittrede van Jacob Zuma as president, die weglating van enkele van die mees hopeloses van swak ministers uit die kabinet en die aanstelling van Advokaat Shamila Batohi in die plek van die bedenklike Advokaat Shaun Abrahams as hoof van die nasionale vervolgingsgesag, was maar ‘n paar van die swaeltjies wat vuisvoos Suid-Afrikaners laat hoop het dat die somer van skoon regering en regverdige bestuur dalk begin aanbreek het.    

Daardie somer het toe nie aangebreek nie.

Met verlede Donderdag se gebruiklike presidensiële toespraak oor die jongste stand van die oneffektiewe en onsamehangende COVID-19 inperkingsmaatreëls, was dit ‘n ander Cyril Ramaphosa wat aan die woord was as vier maande gelede met die aanvanklike instel van sy drakoniese maatreëls. Hy het self nie gesond gelyk nie – voortdurend gesnuif en keel skoongemaak.

Nadat hy die regering se kapitulasie teenoor die druk van onderwysvakbonde en die EFF oor die sluiting van skole aangekondig het, het hy begin kla oor die grootskaalse korrupsie wat die afgelope drie maande onder die wakende oog van sy eie administrasie plaasgevind het, grootliks weens die verslapte aankoopvereistes en begrotingsvereistes  wat sy eie kabinet in die Staatskoerant afgekondig het.

Die nuus oor die IMF en Afrika Ontwikkelingsbank se reuse lenings aan Suid-Afrika word oorheers deur spekulasie oor welke swendelaar eerste gaan spring om dit op te raap. Om alles te kroon is die president se “kommer” oor korrupsie saamgeloop en gevolg met ernstige bewerings van korrupsie by mense baie naby aan hom. Die Botswana-regering vra hulp by Afriforum in ‘n ondersoek na korrupsie en geldwassery teen Ramaphosa se skoonsuster Bridgette Motsepe-Radebe oor geld wat na bewering van die Botswana-regering gesteel is om ‘n staatsgreep teen die land se huidige demokraties verkose president te finansier. Ramaphosa se eie woordvoerder, Khusile Diko neem verlof na bewerings van bedrog en korrupsie teen haar man en nuwe beweringe oor verdagte aktiwiteite deur sy seun Andile, sien die lig.

Daar het tereg ‘n gees van sinisme onder die hele Suid-Afrikaanse bevolking posgevat. Vandag sien mense nie meer die verkiesing van Cyril Ramaphosa as ANC-president as die lang verwagte uitkoms waarop almal gewag het nie en die vraag word opnuut gevra of die leierskapstryde in die regerende ANC werklik leierstryde is of bloot ‘n geskarrel tussen faksies binne ‘n rowerbende wat stry oor die buit?

Die laaste vesel van wat ons as ‘n Suid-Afrikaanse samelewing bymekaar gehou het, is losgetorring.

Gewone mense se heil lê in hulle plaaslike- en kultuurgemeenskappe. Daardie gemeenskappe en hulle instellings moet die boublokke wees vir ‘n nuwe bestel waarin ons nie hulpeloos wag op ‘n nuwe president nie maar werk aan ‘n nuwe realiteit.

Dit gebeur reeds, stadig maar seker.


Current track

Title

Artist