fbpx

Ideologie en verengelsing word bo enige beginsels gestel

Deur on Okt 18, 2019

Lees gerus die volgende ideale: Dit word ingelei met die opskrif Alle Nasionale Groepe Sal Gelyke Regte hê! En dan die volgende subtemas of ideale wat hieruit voortspruit:

  • Daar sal gelyke status wees in die staatsliggame, in die howe en in die skole vir alle nasionale groepe en rasse;
  • Alle mense sal gelyke regte hê om hul eie tale te gebruik, en om hul eie volkskulture en –gewoontes te ontwikkel;
  • Alle nasionale groepe sal beskerm word teen beledigings teen hul ras en nasionale trots;
    Dit klink te goed om waar te wees en sal enige een wat dit hoor of luister se onmiddellike reaksie wees, dat dit net maar nog ʼn verduideliking van die grondwetlike waardes is. Dit is in elk geval nie ideale waaraan dr Blade Nzimande in sy jongste tirade dat Afrikaans, “’n middel is om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda te bevorder, hom aan steur nie. Net so Lesufi met sy onverbloemde haat vir enige iets Afrikaans en die EEF juigkommando onder leiding van Julius Malema wat al te gereeld mond uitspoel oor Afrikaans. Die ideale is toe nou nie weer ʼn grondwetlike mooiklinkende ideaal nie maar die beginsels in die ANC en andere se Vryheidsmanifes, wat op 26 Junie 1955, amper vier en sestig jaar gelede, te Kliptown aanvaar is. Dit vorm die grondslag van vele van die ANC se beleidsdokumente.

In die lig van die Konstitusionele Hof se uitspraak en die daaropvolgende uitsprake van senior politieke leiers, is dit duidelik dat die gedeelte van die Vryheidsmanifes hulle ontgaan het.

Dalk moet die ANC se Nzimande’s en Lesufi’s en lede van ander politieke partye net weer hulle Vryheidsmanifes gaan lees. Dit word ook allerweë aanvaar dat die Vryheidsmanifes een van die grondslae is wat gebruik is vir die 1996 grondwet wat toevallig direkte aansluiting vind by internasionale gebruike en toepassings. Die kern van minderheidsbelange en minderheidsregte soos deur die Vryheidsmanifes verwoord is minderhede se behoefte en reg tot die handhawing van hul taal, kultuur, godsdiens en tradisies. Maar die Vryheidsmanifes se interpretasie en toepassing is net soos die grondwetlike waardes en regte se interpretasie. Dit is in stryd met hulle ideologie. Amper soos die Amerikaanse komediant Groucho Marx wat gesê het: “Dit is my beginsels. As jy nie van hulle hou nie, het ek ander ook.”

Dit word ook gerieflikheidshalwe vergeet dat die grondwet se basis ook gevorm is deur die 34 Grondwetlike Beginsels waaroor ooreengekom is en in die bepalings van die 1993-grondwet weergegee is. Hierdie 34 grondwetlike beginsels het die regs- en morele ruggraat vir die opstel en geregtelike hersiening van die konsep van die 1996-grondwet verleen. Die grondwetlike beginsels is volgens prof Francois Venter van NWU wêreldwyd deur staatsregpraktisyns en politieke wetenskaplikes as ʼn kompakte weergawe van die grondreëls van konstitusionalisme geloof soos dit teen die einde van die twintigste eeu in bestendige en beskaafde grondwetlike jurisdiksies verstaan is. Dit was as’t ware ʼn sosiale en politieke akkoord tussen die verskillende partye wat in daardie tyd met mekaar aangegaan is. Dit het die gees en bedoeling geskep vir ons grondwet en vir die Suid-Afrika , wat ons graag sou wou sien.

Veral van belang is die grondwetlike bepaling XI (Elf) “Die verskeidenheid van taal en kultuur moet erken en beskerm word, en omstandighede vir die bevordering daarvan moet aangemoedig word.”

Wat is dan die belang van die grondwetlike bepaling? Ingevolge die 1993-grondwet is ʼn regering van nasionale eenheid ingestel. Onder hierdie regering is ʼn aantal grondwetlike instellings op die been gebring wat begin het om die noodsaaklike funksies van die jong regstaat te vervul. Hieronder was die Regterlike Dienskommissie, die Konstitusionele Hof, die Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer. Die pasverkose parlement het boonop as die Grondwetlike Vergadering begin optree en het die teks van die “finale” Grondwet gelewer; dit is aan die Konstitusionele Hof voorgelê om te sertifiseer dat dit aan die bepalings van die Plegtige Ooreenkoms (Die 34 grondwetlike bepalings) voldoen. Vanweë enkele tekortkominge is die teks terugverwys en ʼn verbeterde weergawe is oplaas gesertifiseer en deur president Mandela op 10 Desember 1996 by Sharpeville onderteken. Dit het op 4 Februarie 1997 in werking getree. Nadat die Konstitusionele Hof sy taksering van die nuwe teks teen die Grondwetlike Beginsels voltooi het, het die Beginsels nie verder onafhanklike toepassing in die reg gehad nie aangesien die Hof die insluiting daarvan in die nuwe grondwetlike teks gesertifiseer het. Prof Francois Venter heg egter ʼn morele betekenis daaraan “as ʼn uitdrukking van die historiese rekord van die modus vivendi wat in die vier jaar ná 2 Februarie 1990 uitgebeitel is. Anders gestel, enige toepassing of vertolking van die Grondwet wat van die Grondwetlike Beginsels afwyk kom neer op ʼn skending van die Plegtige Ooreenkoms wat meer as vyf en twintig jaar gelede deur die Suid-Afrikaanse nasie gesluit is.”

As die Lesufi’s en Nzimande’s van die wêreld hulle dan nie steur aan die SA grondwet nie, wat in elk geval deur die vorige president as ʼn lastigheid gesien is en hulle ook nie hou by die basis van hulle eie Vryheidsmanifes nie, wat sou dan hulle denke bepaal? Die antwoord moet gesoek word in die ideologie wat die ruggraat vorm vir vernietigende beleidsraamwerke wat gevorm word deur die Nasionale Demokratiese Revolusie. Binne die Vryheidsmanifes en die Nasionale Demokratiese Revolusie word die volgende grondliggende waardes geregverdig en bevorder: transformasie; historiese regstelling; sosiale geregtigheid; ekonomiese herverdeling; staatsintervensie; swartbemagtiging. Dit staan in skerp kontras met die SA Grondwet se Grondliggende waardes naamlik, politieke demokrasie; konstitusionalisme; sosiale verantwoordelikheid; sterk burgerlike instellings: die oppergesag van die reg. Die krampagtige vasklou en onverantwoordelike gedobbel met uitgediende ideologieë het ʼn agterlike en ondergemiddelde Suid-Afrikaanse samelewing tot gevolg waarin presies die teendeel bereik is: groter armoede, werksverliese, sosiale afhanklikheid, landelike en grond verval, outokratiese en eensydige manipulasie, immoraliteit en vertrapping van kulture en minderhede en al hoe meer die vertrapping van tale en die bevordering van koloniale Engels.

Die enigste taal wat vanuit die NDR perspektief bevorder word, is die taal van blinde en slaafse navolging van ideologie en dit word deur Engels gedoen. Dr Theuns Eloff skryf in 2016 in ʼn artikel Die universiteitswese in Suid-Afrika: ’n Bestekopname van huidige tendense en die vooruitsig vir Afrikaans “dat as gevolg van die relatiewe onderprestasie van die regering, word daar opnuut na sondebokke gesoek te midde van toenemende ontevredenheid. Gevolglik, soos die voorheen benadeelde meerderheid die ANC-regering begin verwyt, so verwyt die regering en die ANC intellektuele weer op hulle beurt die vorige maghebbers (dikwels wit en/of Afrikaanse mense) omdat hulle nie genoegsaam getransformeer het nie.” Hy haal dan vir dr Blade Nzimande as Minister van Hoër Onderwys aan wie se agenda soos volg bepaal word: “We live with the reality that our institutions still carry the scars of the past – that of having been black, Zulu or Sotho, white or Afrikaner institutions. We have to confront this past as part of Africanising our universities …” Dr Eloff antwoord hierop “Indien ver genoeg ontplooi, sal ideologiese transformasie noodwendig dus ook behels dat universiteite verlengstukke van die staat word. Institusionele outonomie en akademiese vryheid sal dus die slagoffers word van transformasie. Watter ruimte los hierdie uitkoms vir kwessies soos diversiteit en meertaligheid? Die rol en status van minderheidsgroepe onder ʼn getransformeerde bewind van “African hegemony” is onduidelik, maar dit is ʼn voldonge (en tog ironiese) feit dat die verstektaal van “Africanisation” Engels sal wees – die werklike koloniale taal in Afrika.”
Wat jammer is, is dat Engels die enigste wenner is van die taalgesprek in Suid-Afrika. As die geskiedenis eendag ‘n oordeel moet fel, sal dit met ernstige spyt wees dat die maklike uitweg in 2019 gevolg is. Van taal bevordering of beskerming is daar geen sprake nie, ten spyte van mooiklinkende ideale in die grondwet en die ANC se eie Vryheidsmanifes. Dit vereis skeppende denke en dit staan in die pad van die toepassing van ideologie. Die nuwe taal kolonialisering vind plaas deur ideologie wat in die howe en deur politici bevorder word.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist