11 Februarie 2024
Die hoër fases van beurtkrag, wat tans toegepas word, sal na verwagting eers teen Woensdag verlaag kan word.
Die minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramokgopa het tydens ‘n mediakonferensie vanoggend gesê dat die hoër fases van beurtkrag toegeskruif kan word aan verskeie kragopwekkingseenhede wat onklaar geraak het weens ketelbuis lekkasies.
Hy sê Eskom is uiters bekommerd oor die toename in die hoeveelheid ketelbuis lekkasies by sy kragstasies. Volgens Ramokgopa is die kragvoorsiener tans in gesprek met die vervaardigers van die ketelbuise om vas te stel waar die probleem lê.
Die minister het ook gesê dat Eskom hierdie somer beter gevaar het as wat hulle verwag het ten opsigte van fases van beurtkrag.
Ramokgopa sê luidens Eskom se kragplan vir die somer, sou fase 4-beurtkrag die hoogste vlak van beurtkrag wees, maar meen die kragvoorsiener kon toesien dat die gemiddelde fase van beurtkrag dié somer tussen fase 1 en fase 3 gewissel.
Ramokgopa het ook op ‘n sosiale media-plasing van die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gesê dat daar ‘n mate van waarheid daarin kan steek. Mbalula het gesê dat fase 6-beurtkrag kort na die staatsrede ingestel is omdat die party gesaboteer word.
Die minister reken egter dat die huidige fases van beurtkrag nie aan sabotasie toegeskryf kan word nie.
Intussen geld fase 5-beurtkrag sedert 12:00 vanmiddag tot verdere kennisgewing.