fbpx

“Hoe gaan Tito Mboweni ons uit hierdie gat kry?”

Deur on Okt 31, 2019

Nuuskommentaar: 31 Oktober

“Hoe gaan Tito Mboweni ons uit hierdie gat kry?” Dit is die groot vraag wat die hoofekonoom van die Efficient Groep, Dawie Roodt, vra nadat die minister van finansies die mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) in die parlement voorgelê het. Mboweni het ’n baie donker prentjie van die ekonomie geskets. Die verwagte ekonomiese groei vir vanjaar is van 1,5% in Februarie se begroting tot net 0,5% afwaarts aangepas.

Boonop kan staatskuld teen 2023 meer as 70% van die bruto binnelandse produk beloop, teenoor die minder as 60% wat nog in Februarie verwag is. Die begrotingstekort vir vanjaar word nou op 5,9% van die BBP geraam, teenoor die 4,7% waarop nog in Februarie gehoop is. Die teiken vir belastinginkomste word ook ver gemis en daar gaan vanjaar net R1 379 miljard se inkomste ingevorder word, wat 4% of R53 miljard minder is as verwag. Sommige ekonome sê hoewel die syfers wat Mboweni vir vanjaar en die volgende paar jaar voorspel, beroerd is, is hulle bekommerd dat dit steeds te optimisties is. Roodt sê onder meer dat hy dink dat die minister van finansies is verkeerd, dat die land se skuld net nóg meer gaan word en dat dit vir die afsienbare toekoms meer druk op die rand plaas. Die rand het juis gister skerp verswak teenoor die dollar. Dit het selfs vir ’n kort rukkie wéér deur die R15-vlak teenoor die Amerikaanse dollar gebreek. Dit het vroeg vanoggend teen R14,96 teenoor die dollar verhandel. Dit is wel so dat ons ’n nuwe minister van finansies het wat eerlik is oor die aaklige stand van die ekonomie. Die vraag is wel, soos Roodt tereg vra of hy ons uit hierdie gat kan grawe.

Die vakbond Solidariteit was ook nie beïndruk met die nuus wat die minister gedeel het nie. `n Senior navorser verbonde aan die Solidariteit-navorsingsinstituut Morné Malan, sê die regering moet meer realisties te werk gaan met die land se finansies en ophou om in die wolke te leef. Dit is nou al vir amper tien jaar die geval dat ekonomiese groei afwaarts aangepas word. Ons sien keer op keer hoe die regering ons land se fiskale krisis onderskat en onvoldoende, dikwels teenproduktiewe, planne daarstel, wat dan – om dinge nog erger te maak – ondoeltreffend geïmplementeer word. Intussen dreig die Nasionale mynwerkersiunie om die land in donkerte te hul sou Mboweni en andere dit waag om Eskom te ontbondel. Suid-Afrika se ekonomiese welvaart word dus gyselaar gehou deur `n klomp sosialiste.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist