Het die oorlog teen terreur misluk?

Deur on

Nuuskommentaar: 13 Augustus 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Die Amerikaanse weermag het verlede week sy onttrekking uit Niger in die Sahel-streek in Noord-Afrika afgehandel. Duisende Amerikaanse soldate het die afgelope paar jaar twee moderne weermagbasisse in Niger gebruik as spilpunt in die Amerikaners se teenterrorisme-operasies in Afrika. Ná ʼn militêre staatsgreep verlede jaar in Niger het dié land se junta egter besluit om die ooreenkoms met die VSA op te skort.

Frankryk, wat vir langer as ʼn dekade die teenterreurveldtog in die Sahel-streek gelei het, het ook die afgelope twee jaar byna heeltemal uit die streek onttrek met 10 000 Franse soldate wat onttrek is. Sedert Maart 2022 was daar ses suksesvolle staatsgrepe in die streek.

Die Sahel-streek is een van die armste gebiede in Afrika en weens sy swak regerings en enorme onderontwikkelde gebiede het dit die afgelope paar jaar ʼn tuiste vir internasionale terreurgroepe geword. Veral groepe wat bande het met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat (IS), het hulle aktiwiteite in die streek wesenlik uitgebrei. Een van die gevaarlikste terreurgroepe in die wêreld tans is Jama’at Nasr al-Islam wal-Muslimin, bekend as JNIM, wat tans aktief is in Mali, Burkina Faso en Niger.

Dié groep se oogmerk is om die hele Sahel-streek in ʼn streng Islamitiese kalifaat te omskep. Die Franse en Amerikaners het veral tussen 2019 en 2022 met wisselende sukses daarin geslaag om JNIM se uitbreiding in die Sahel te stuit, maar die afgelope paar maande is dié groep op die voorvoet.

Dit is nie net in die Sahel-streek in Afrika waar terreurgroepe tans floreer nie. In Nigerië voer Boko Haram ʼn bloedige stryd teen Christene en die staat. In Somalië beheer Al-Shabaab groot dele van die land en voer voortdurend terreuraanvalle uit. Die bedreiging van Islamitiese terreur is ook besig om suidwaarts in Afrika uit te brei met terreurnetwerke wat reeds in lande soos Uganda, Ghana, Tanzanië en Mosambiek voorkom.

Terreurgroepe is ook besig om in Suidoos-Asië en die Midde-Ooste te hergroepeer en aanvalle op Amerikaanse weermagbasisse in Irak het die afgelope ruk toegeneem. Sedert Amerika se onttrekking uit Afganistan het dié land ʼn broeines vir terreur geraak met die groep IS Khorasan, ʼn ekstreme afsplitsing van die IS-groep, wat tans soveel as 6 000 opgeleide vegters het. Dit is ook dié groep wat vroeër vanjaar ʼn reuseterreuraanval op ʼn konsertsaal in Moskou geloods het. Europese lande beskik oor intelligensie dat IS Khorasan ook aanvalle op Wes-Europese lande beplan.

Verlede week het die Australiese regering die bedreiging van terreur in dié land van “moontlik” na “waarskynlik” verhoog. In Oostenryk moes Taylor Swift se konserte gekanselleer word nadat ʼn beplande terreuraanval betyds ontbloot is. ʼn Enorme teenterreur-operasie het talle moontlike aanvalle op die Paryse Olimpiese Spele verhoed. Die vraag is: Hoe lank gaan Europese lande daarin slaag om die bedreiging te stuit?

Die VSA het die afgelope twee dekades meer as agt triljoen dollar in sy stryd teen terreur bestee. Onlangse gebeure in veral die noorde van Afrika en in die Midde-Ooste dui daarop dat terreurgroepe tans in verskeie wêrelddele die oorhand het en dat Amerika en sy bondgenote besig is om die oorlog teen terreur te verloor. Dit voorspel niks goeds vir lande wat die afgelope paar jaar onder terreuraanvalle deurgeloop het nie. ʼn Toename in terreuraanvalle moet waarskynlik in die volgende paar jaar verwag word.

Foto: CNN


Current track

Title

Artist