Nuuskommentaar: 7 Oktober 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Op 7 Oktober 2023 het Hamas vanuit die Gasastrook die bloedigste enkele aanval in die geskiedenis van die moderne Israeliese staat uitgevoer. Sowat 1 200 mense is dood en nog 250 is gyselaar geneem. In die daaropvolgende maande het die bloedigste oorlog tot op hede tussen Israel en die Palestyne gevolg met tienduisende Palestyne in hoofsaaklik die Gasastrook wat dood is. Intussen het die konflik na Libanon uitgebrei en oor die afgelope twaalf maande het Iran twee keer direkte aanvalle met missiele op Israel uitgevoer – iets wat ook ’n eerste is in die veertig jaar lange stryd tussen Israel en Iran.
Die Midde-Ooste is dramaties verander deur die traumatiese gebeure van 7 Oktober 2023 en alles wat daarop sou volg. Byna al die leiers van Hamas en Hesbollah is dood. Groot dele van die Gasastrook is heeltemal vernietig en Hesbollah se aanvalsvermoë vanuit die suide van Libanon is dramaties verswak. Israel het bewys dat hy op vernuftige wyse selfs senior leiers van hierdie groepe in Teheran, die hoofstad van Iran, kan doodmaak. Dit alles het Israel en Iran nader aan ’n direkte oorlog as ooit sedert die Iranse revolusie van 1979 gebring. Dit is duidelik dat die situasie tans meer plofbaar as ooit vantevore is en dat daar uit die afgelope twaalf maande se gebeure meer verloorders as wenners was.
Yahya Sinwar, leier van Hamas in die Gasastrook, het vir maande voor Oktober 2023 aan ’n bloedige verrassingsaanval op die suide van Israel beplan. Sinwar se plan was om uiteindelik ’n groter oorlog teen Israel te ontketen. In aanloop tot 7 Oktober verlede jaar het hy groepe soos Hesbollah en proksies van Iran in Sirië, Jemen en Irak probeer oortuig om by die aanval betrokke te raak. Uiteindelik was sy droom dat al hierdie groepe, met die hulp van Iran, Israel sodanig sou verras dat reuseskade aangerig sou word wat selfs tot ’n groot nederlaag of die vernietiging van Israel sou lei.
Radikale Palestynse leiers soos Sinwar wou nie net Israel militêr verslaan nie, maar wou ook die Arabiese wêreld heraktiveer om vir die Palestynse saak in te staan. Die afgelope paar jaar het al hoe meer Arabiese lande hulle aptyt vir die voortslepende stryd tussen Israel en die Palestyne verloor. Talle Arabiese lande het diplomatieke en ekonomiese bande met Israel begin smee, terwyl ander dit begin oorweeg het. Sinwar se aanval van verlede Oktober was bedoel om hierdie Arabiese lande by die Palestynse saak in te trek.
In elke opsig het Sinwar se doelstellings misluk. Nie Hesbollah of Iran was bereid om direk in ’n oorlog met Israel te tree nie en Hamas het ’n reuse-nederlaag in die Gasastrook gelei wat tot die dood van die meeste van sy leiers, maar ook reuse-lewensverlies en vernietiging gelei het. Intussen het Israel die afgelope maand op briljante militêre wyse ook Hesbollah se leiers doodgemaak en sy aanvalsvermoë verminder. Iran is deur die gebeure van die afgelope twaalf maande verder geïsoleer en verneder.
Die risiko vir ’n groter streeksoorlog, veral tussen Israel, gesteun deur die VSA, en Iran met al sy proksies in die streek, bestaan steeds. ’n Jaar na die tragiese aanvalle, wat tot ’n verdere traumatisering van die Joodse bevolking wêreldwyd gelei het, is daar hoofsaaklik verloorders in die Midde-Ooste. Israel wen tans die militêre stryd, maar word meer geïsoleer en vir sy oorlogsdade veroordeel. Uiteindelik het die afgelope twaalf maande se gebeure bewys dat Iran en sy proksies eers tot orde geroep moet word voordat daar van ’n vreedsame naasbestaan tussen Israel en die Palestyne gepraat kan word. Vir nou lyk dit egter of meer bloedvergieting nodig gaan wees voordat vrede ’n werkbare opsie kan raak. In daardie opsig is 7 Oktober 2023 net nog ’n bloedige merk op millennia van konflik en stryd om beheer van die gebied waarna die afgelope honderd jaar as die Midde-Ooste verwys word.