Groter samewerking tussen onafhanklikheidbewegings in Afrika

Deur on

Nuuskommentaar: 24 Mei 2021

Deur: Jaco Kleynhans

Volkere wat na selfbeskikking, van watter aard ook al, strewe het die afgelope paar jaar veral na Skotland en Katalonië gekyk. In beide gevalle is daar egter min vordering gemaak en terwyl steun vir onafhanklikheid in Skotland en Katalonië redelik groot is, is daar min rede om te glo dat enige van die twee streke binne die volgende paar jaar onafhanklikheid gaan verkry.

Oor die afgelope twee dekades het volkere, kultuurgroepe en minderheidsgroepe wat na selfbeskikking streef wêreldwyd min sukses behaal en is daar eerder ‘n tendens na groter sentralisering van mag en neem die onderdrukking van minderhede wêreldwyd toe.

In 2008 het Kosovo onafhanklikheid verklaar van Serwië en in 2011 het Suid-Soedan onafhanklik van Soedan geword, maar beide lande staar steeds enorme uitdagings in die gesig.

Die strewe na selfbeskikking kom wêreldwyd in meer as een honderd lande voor. Dit behels meestal kultuurgroepe of minderheidsgroepe se strewe na groter erkenning van groepsregte, eise vir federalistiese stelsels wat mag na gemeenskappe afwentel, die reg tot eie instellings, groter selfbestuur en selfs ‘n strewe na totale onafhanklikheid.

Afrika is een van die kontinente met die meeste groepe wat op een of ander manier na groter selfbeskikking streef. Daar is verskeie historiese redes hiervoor, waarvan die belangrikste sekerlik landgrense is wat uit die kolonialistiese tyd dateer en wat sommige volkere sonder ‘n land van hulle eie laat, sommige volkere oor verskillende lande verstrooi en in sommige gevalle volkere wat min met mekaar in gemeen het, in een land saamgevoeg het.

Verlede jaar het ernstige geweld uitgebreek toe die Tigray-streek in Ethiopië nie meer tevrede was met dié land se vlak van federalisme nie en die regering in Tigray besluit het om ‘n eie verkiesing te hou. Uiteindelik het die sentrale regering ingegryp en is die opstand deur geweld onderdruk.

In Wes- en Sentraal Afrika is daar verskeie groepe wat ook na groter selfbeskikking streef en hierdie groepe begin nou met mekaar saam te werk. Die inheemse Biafra-groep in Nigerië, wat hulle reeds vir jare vir ‘n onafhanklike Biafra-staat beywer, het verlede maand ‘n formele samewerkingsooreenkoms met nog ‘n goed georganiseerde minderheidsgroep, dié keer, in Kameroen aangegaan.

Die Engelssprekende minderheid in Kameroen dring al vir jare aan op groter selfbeskikking en word deur die Franstalige meerderheid onderdruk. In 2016 het hulle die Ambazonia-beweging gestig. Deur die beweging het hulle grootliks daarin geslaag om mense vir hulle strewe te mobiliseer.

Die Biafra-beweging in Nigerië en die Ambazonia-beweging in Kameroen het nou ‘n samewerkingsooreenkoms aangekondig. Die Solidariteit Beweging in Suid-Afrika is ook reeds die afgelope twee jaar in gesprek met die Ambazonia-beweging en ander groepe in Afrika wat na groter selfbeskikking strewe.

Terwyl die voorbeeld van Skotland, Katalonië, Vlaandere, Suid-Tirool en ander groepe in Europa baie relevant is, sal dit ook sinvol wees om die toenemende mobilisering van groepe in Afrika wat op verskillende vlakke na groter selfbeskikking streef, dop te hou en waar nodig met hierdie groepe saam te werk. Hoewel verskeie bewegings in Afrika hulle regte deur geweld wil opeis, is daar sonder twyfel ook kultuurgroepe in Afrika wat ten gunste van vreedsame oplossings vir die voortdurende vraagstukke oor minderheidsregte en die regte van kultuurgemeenskappe op die Afrika-kontinent is.


Current track

Title

Artist