Groot toename in protesbewegings wêreldwyd

Deur on

Nuuskommentaar: 27 Julie

Deur: Jaco Kleynhans

Die onlangse protes en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng het internasionale opslae gemaak en groot skade aan Suid-Afrika se beeld in die buiteland berokken. Tog is gewelddadige protes, plundering en opstande wat gevaarlik naby aan politieke onstabiliteit begin beweeg nie tans tot Suid-Afrika beperk nie.

Gedurende die eerste ses maande van 2021 was daar ‘n skerp toename in politieke protes op die meeste kontinente. Die afgelope drie weke het ons selfs ‘n verdere styging in gewelddadige protesaksie in Afrika, die Midde-Ooste, Latyns-Amerika en Asië gesien.

Die gesaghebbende Carnegie Endowment for International Peace se Globale Protesindeks het vanjaar reeds meer as 230 politieke protesaksies in 110 lande geïdentifiseer. Die verwagting is dat die situasie oor die volgende paar maande eerder gaan vererger.

Die afgelope naweek het groot protesbewegings in uiteenlopende lande soos Iran, Frankryk en Haïti hulleself laat geld. In Iran het hernude protesaksie in verskeie dorpe en stede uitgebreek.

In Frankryk het daar die afgelope naweek honderde duisende mense aan optogte teen sogenaamde Covid-19-paspoorte en ander maatreëls insluitende verpligte inentings vir gesondheidswerkers plaasgevind. In Latyns-Amerikaanse lande soos Haïti, Colombia en Kuba het daar die afgelope twee weke groot protesaksies teen regerings van dié lande plaasgevind.

Analiste waarsku dat dit veral Afrika, die Midde-Ooste en Latyns-Amerika is wat die risiko loop om toenemend onder gewelddadige protesaksies deur te loop. Die internasionale risiko analise firma Verisk Maplecroft het onlangs ‘n verslag gepubliseer waarin hulle waarsku dat ten minste 37 lande oor die volgende drie jaar groot en uiters ontwrigtende protesbewegings gaan ervaar wat bestaande konflik gaan verdiep en tot ekonomiese en politieke onstabiliteit aanleiding kan gee.

Die verslag, wat nog voor die onlangse opstande in Suid-Afrika saamgestel is, sluit Suid-Afrika by die 37 lande om dop te hou in. In Afrika waarsku die groep teen groot, ontwrigtende protesoptrede in, naas Suid-Afrika, ook Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ethiopië, Egipte en Algerië. In die Midde-Ooste is dit veral Iran en Pakistan wat ryp vir groot protesbewegings is. Van die grootste risiko’s in Latyns-Amerika is in Brasilië, Chili, Venezuela, Peru, Kuba en Colombia. Indië, Rusland, Turkye, Indonesië en Bangladesj het ook die lys gehaal.

Die grootste drywer van protesbewegings is die afgelope 18 maande se verswakkende sosio-ekonomiese situasie in veral ontwikkelende lande. Die gevolge van die pandemie en gepaardgaande regeringsmaatreëls het in armer en ook in ontwikkelende lande armoede verdiep, werkloosheid vererger en ongelykhede verder beklemtoon.

Daar was lanklaas in die wêreld se geskiedenis so ‘n algemene pessimisme onder mense en dit word ook weerspieël in ‘n groeiende frustrasie met verkose leiers en talle nuwe teenregeringsprotesbewegings.

Daar word verwag dat die probleme met armoede en hongersnood in armer lande vir die res van vanjaar gaan voortduur en selfs vererger. Korrupsie, onbekwame burokratiese regerings en arm mense wat geen hoop vir die toekoms het nie is alles net olie op die protesvuur.

Terwyl ons in Suid-Afrika ‘n onaangename voorsmakie hiervan gekry het, is dit ‘n harde werklikheid dat politieke en ekonomiese onstabiliteit tans ‘n globale uitdaging is en dat Suid-Afrika in plaas daarvan om net deel van die statistiek te word, uit die krisisse van ander lande moet leer en nou die regte stappe moet neem om ‘n herhaling van die onlangse protes en plundering te verhoed.

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier


Current track

Title

Artist