fbpx

Groot protesstem in verkiesing in Oos-Duitsland

Deur on Sep 5, 2019

Nuuskommentaar: 5 September

Sowat dertig jaar na die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland het verkiesings in twee Oos-Duitse deelstate die afgelope naweek hernude vrae oor die toekoms van die politieke middelgrond in Europa laat ontstaan.

Die regs-populistiese Alternatief vir Duitsland het soos verwag, en ten spyte van ‘n enorme veldtog teen die party, daarin geslaag om uitstekend in Sakse en Brandenburg te doen. In beide deelstate het die party daarin geslaag om tweede te eindig, ‘n kortkop agter die Christen Demokratiese Unie in Sakse en die Sosiaal Demokratiese Party in Brandenburg. In Sakse het hul steun van 9,7% in 2014 tot 27,5% gestyg en in Brandenburg vanaf 12,2% tot 23,5%.

Twee stelle data verduidelik tot ’n mate die groei in steun vir die AfD in Oos-Duitsland. Die eerste is dat 66% van kiesers in Oos-Duitsland hulself as tweedeklas burgers beskryf. Byna 80% van mense wat vir die AfD stem beskryf hulself as tweedeklas burgers. Nog ’n interessante ontleding is dat in Sakse die AfD die gunsteling party van ’n meerderheid van kiesers tussen die ouderdomme van 18 en 29 is. Dit beteken dat dit nie, soos wat die persepsie miskien is, net ’n klomp ouer mense is wat vir regs-populistiese partye stem nie, maar eerder dat dit jongmense wat van die politieke stelsel vervreemd voel, is wat vir partye soos die AfD stem.

In onlangse navorsing in ander Europese lande het dieselfde tendens na vore gekom. In Italië is dit moedelose jongmense wat ook soos tweedeklas burgers voel wat tans hul steun vir die Liga-party van Matteo Salvini gee. In Nederland is dit jong kiesers wat vroeër vanjaar in provinsiale verkiesings die Forum vir Demokrasie tot die grootste party in Nederland laat groei het.

Die uitslag van die verkiesing Sondag in Sakse en Brandenburg en soortgelyke tendense in ander dele van Europa kan aan nuwe verdelingslyne toegeskryf word. In die eerste plek is daar die verdelingslyn tussen ’n regeringsklas in hoofstede soos Berlyn, Parys en Brussel en gewone kiesers op grondvlak wat voel dat politici nie na hulle luister nie. In Duitsland is die verdelingslyn tussen Wes- en Oos-Duitsland ook besig om groter eerder as kleiner te raak.

Sedert hereniging drie dekades gelede het meer as 3,5 miljoen Oos-Duitsers, veral jongmense, die streek verlaat en in veral Wes-Duitsland gaan werk. Dit is merendeels plattelandse gemeenskappe in Oos-Duitsland wat die gevolge hiervan ervaar. Daar is in Duitsland, net soos in ander Westerse lande, ook ’n groeiende verdelingslyn tussen die welvarende, liberale en kosmopolitiese stede en die behoudende, tradisionele en arm wordende platteland. Dat ’n protesparty soos die AfD dus in landelike gebiede in Oos-Duitsland goed doen in verkiesings behoort nie ’n verrassing te wees nie.

Die probleem is egter dat hoofstroompartye soos Angela Merkel se Christen-Demokrate alles in hul vermoë sal doen om die AfD uit die regerings in Sakse en Brandenburg te hou. Netso het die Vyfsterbeweging en die Demokratiese Party verlede week ’n koalisie in Italië gesluit om te verhoed dat die regse Liga-party ’n verkiesing wen. Dieselfde gebeur in Nederland, België, Frankryk en nog ander lande en uiteindelik behou die politieke elite die gesag terwyl die vervreemding met ’n wesenlike deel van die burgery verder toeneem. Dit is onvolhoubaar en gaan uiteindelik net tot verdere groei in steun vir regse protespartye aanleiding gee.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist