Graad 10-leerling glo deur mede-leerling tydens pouse doodgesteek

Deur on

13 Mei 2022

‘n Graad 10 leerling aan die Thaba-Jabula Sekondêre Skool in Pimville, Soweto is dood nadat hy na bewering gisteroggend deur ‘n graad 9 leerling doodgesteek is. 

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi sê die twee kinders het glo tydens pouse stry gekry. Volgens die woordvoerder van die onderwysdepartement in Gauteng, Steve Mabona het die kind in graad 9 glo sy jonger boetie verdedig wat na bewering deur die oorledene geboelie is. 

Hy sê die ouer kind is na ‘n nabye hospitaal gehaas, maar het teen 17:00 gistermiddag aan sy wonde beswyk.

Die verdagte het van die toneel gevlug, maar is later by die skool in hegtenis geneem.

Mabona sê die departement se beraders was veronderstel om vandag die skool te besoek, maar woedende ouers het die skool geteiken en geëis om hulle kinders huis toe te neem. Daar was ook kinders wat onder mekaar begin baklei het. In ‘n video kan gesien word hoe die hek na die skool deur kinders omgestamp word.

“Ons veroordeel die gebeure by die skool ten sterkste en doen ‘n ernstige beroep op kinders om enige onderwyser in te lig van boelie-gedrag,” sê Mabona.


Current track

Title

Artist