fbpx

Goeie nuus op die internasionale politieke toneel

Deur on Jul 2, 2019

Nuuskommentaar: 2 Julie

Ons is geneig om almal te fokus op al die slegte dinge wat daagliks in die wêreld gebeur, maar ‘n hele paar goed wat die afgelope week gebeur het, kan as baie positief gereken word.

Verlede Maandag het burgers van die stad met die vierde grootste bevolking in die wêreld, Istanboel, wakker geword met die boodskap dat die Turkse opposisie vir die eerste keer sedert 1994 dié stad sal regeer. Die verkiesingsuitslag is van wesenlike belang vir Turkye, maar ook vir die toekomstige verhouding tussen Turkye en die Weste. Die Regs- en Ontwikkelingsparty van President Recep Tayyip Erdoğan het die afgelope paar jaar sy magsgreep oor Turkye versterk met ‘n groot aanslag op demokratiese instellings. Terwyl die gematigde en sekulêre Republikeinse Volksparty vroeër vanjaar Turkye se tweede en derde grootste stede, die hoofstad Ankara en die kusstad Izmir in munisipale verkiesings verower het, wou Erdogan se party nie ‘n opposisie-oorwinning in Istanboel aanvaar nie. Die opposisie se kandidaat het aanvanklik in Istanboel met sowat dertigduisend stemme gewen, maar Erdogan en sy party het geweier om dit te aanvaar. Uiteindelik moes ‘n herverkiesing plaasvind.

In verlede Sondag se herverkiesing het die opposisiekandidaat gemaklik met meer as 800 000 stemme gewen. Die uitslag is ‘n verdere terugslag vir Erdogan en sy outokratiese regeringstyl. Dit is duidelik dat ‘n wesenlike deel van Turkye se burgers ook bekommerd is oor die agteruitgang van die demokrasie in Turkye en verder bekommerd is oor Turkye se verswakkende verhouding met die Weste.

Die jaarlikse G20-beraad is gewoonlik maar ‘n byeenkoms met weinig uitkomste en dieselfde kan tot ‘n mate van verlede week se beraad in Osaka, Japan gesê word. Die deurbraak wat die Amerikaanse en Chinese staatshoofde in terme van onderhandelinge vir ‘n handelsooreenkoms gemaak het, moet egter nie lig geweeg word nie. President Donald Trump se argument die afgelope drie jaar dat ‘n meer billike handelsbedeling tussen Amerika en China nodig is, is heeltemal korrek. Die afgelope maande se handelsoorlog begin egter sy tol eis en met vrese vir ‘n volgende ekonomiese afswaai, veral in Westerse lande, is dit noodsaaklik dat die onderhandelinge tussen die VSA en China so gou moontlik moet voortgaan en dat ‘n ooreenkoms bereik moet word. Dit is ook in Suid-Afrika se belang dat dit gebeur.

Die afgelope week was ‘n week met vele suksesse vir President Trump. Sy byna impulsiewe besluit oor die naweek om na die grens tussen Suid- en Noord-Korea te reis en die eerste Amerikaanse President ooit te word om Noord-Korea te besoek, is nog ‘n stukkie goeie nuus. Trump het Sondag vir meer as ‘n uur op Noord-Koreaanse grondgebied met Kim Jong-oen, die leier van Noord-Korea, beraadslaag en die gevolg is dat onderhandelinge vir die staking van Noord-Korea se kernprogram hervat kan word.

Op ons eie kontinent het duisende burgers van Soedan Sondag opgeruk na dié land se hoofstad Khartoem om weer eens protes aan te teken teen die drie maande lange militêre bewind. Die deursettingsvermoë van die pro-demokratiese beweging in Soedan is verblydend en byna verstommend en stuur ‘n sterk boodskap na outokratiese regerings in ander Afrika-lande dat dieselfde ook met hulle kan gebeur.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist