Globale magstryd speel toenemend in Asië af

Deur on

Nuuskommentaar: 20 Desember 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Verlede Vrydag het die Japanse eerste minister, Fumio Kishida, ʼn nuwe nasionale veiligheidstrategie vir Japan aangekondig. Dié nuwe strategie verteenwoordig ʼn historiese verandering in Japan se veiligheidstrategie nadat die land die afgelope sewe dekades hoofsaaklik op selfverdediging gefokus het. Japan beplan om sy militêre spandering oor die volgende paar jaar te verdubbel.

Volgens Kishida verteenwoordig Noord-Korea en China se optrede ʼn groeiende bedreiging vir Japan. Kort na Kishida se aankondiging Vrydag, het Noord-Korea twee ballistiese missiele in die rigting van Japan oor die naweek afgevuur, terwyl ʼn vloot Chinese oorlogskepe naby kwesbare Japanse eilande verbygevaar het.

Japan het aan die begin van die jaar ʼn historiese verdedigingsooreenkoms met Australië onderteken. Die Japanese het reeds noue verdedigingsamewerking met die VSA en ander Westerse lande.

Die Chinese president, Xi Jinping, was onlangs op besoek aan Saoedi-Arabië waar hy ook met leiers van ander Arabiese lande ontmoet het. Terwyl China sy militêre vermoë in Asië uitbrei, versterk dié land ook sy bande met ander outoritêre regerings in die Midde-Ooste, Asië en Afrika. Die Chinese regering is reeds die afgelope tien jaar besig om as ʼn teenvoeter vir Westerse demokrasie en die vryhede wat daarmee saamkom, alternatiewe samewerkingstrukture regoor die wêreld te ontwikkel.

Sedert Xi tien jaar gelede in China aan bewind gekom het, het dit duidelik geraak dat die Chinese ʼn alternatiewe wêreldorde daar wil stel. Daarvoor is die Chinese voortdurend besig om Westerse invloed, instellings en beginsels te ondermyn. China se pogings om demokrasie in Hong Kong te verhoed en om Taiwan te isoleer met die uiteindelike doel om Taiwan te annekseer, lei tot groterwordende spanning. Verskeie lande, soos Australië en Nieu-Seeland het al onder Chinese sanksies deurgeloop weens hulle ondersteuning vir Taiwan.

Die Republikeinse Party in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het verlede week aangekondig dat hulle in Januarie, ʼn spesiale komitee vir China op die been gaan bring ten einde ʼn langtermynstrategie te ontwikkel om China se groeiende globale rol teen te werk.

Sedert Rusland se aanval op Oekraïne in Februarie raak dit toenemend duidelik dat despotiese en outoritêre regimes op verskillende kontinente magte begin saamspan om Westerse demokrasie teen te werk. China se weiering om Nood-Korea se ontwikkeling van ʼn kernwapen teen te werk dien as voorbeeld hiervan. Die Chinese se samewerking met Rusland, Iran en ander Midde-Oosterse en Afrika diktature is deel hiervan. Rusland se ondersteuning van militêre juntas in Noord-Afrika is daarop gemik om die VSA en Europa se rol in Afrika te verminder.

Die groeiende samewerking die afgelope paar jaar tussen lande in Europa, die Verenigde Koninkryk, die VSA, Australië en Japan om China, Rusland en ander outoritêre magte teen te werk, is dus ʼn positiewe stap. Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, en sy regering het reeds vyf jaar gelede die noodsaak vir hierdie soort verdedigingsamewerking tussen demokrasieë wêreldwyd geïdentifiseer.

Japan as derde grootste ekonomie in die wêreld het die rykdom om iets te doen om China se negatiewe rol in Asië teë te werk. Die globale magstryd gaan oor die volgende paar jaar veral in Asië afspeel. Japan se strategiese verandering na ʼn meer selfgeldende militêre benadering gaan ʼn wesenlike invloed op gebeure hê.

Foto: Business Basics


Current track

Title

Artist