Nuuskommentaar: 5 Augustus 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Die bekende Amerikaanse politieke denker Samuel Huntington is reeds in 2008 oorlede, maar gebeure in Europa, die VSA en ander Westerse lande die afgelope tyd bevestig toenemend sy waarskuwings wat in 1996 in sy opspraakwekkende boek The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order gerig is.
Huntington het onder andere geskryf dat multikulturalisme in sy wese teen die Europese beskawing is en dat dit ’n anti-Westerse ideologie is. Volgens Huntington sou die era ná die Koue Oorlog toenemend gekenmerk word deur ’n botsing van beskawings.
Huntington het verder gegaan en gewaarsku dat gevaarlike botsings uiteindelik sou ontstaan uit die interaksie tussen Westerse arrogansie, Islamitiese onverdraagsaamheid en Chinese selfgelding. Terwyl hierdie botsings reeds in handelsoorloë, proksie-oorloë en dreigende globale konflik afspeel, sou Huntington sekerlik nie in die 1990’s reeds kon voorsien tot watter mate dit binne toenemend multikulturele Westerse samelewings sou uitspeel nie.
Verlede Maandag het ’n 17-jarige jongman in Engeland, wie se ouers immigrante uit Rwanda is, jong meisies by ’n dansskool aangeval. Drie meisies is in die aanval dood en talle ander ernstig beseer. Hierdie aanval het nie in isolasie plaasgevind nie, maar is deel van ’n groter patroon van geweldsmisdade in Westerse lande wat deur immigrante en die afstammelinge van immigrante gepleeg word. Terwyl burgers in die meeste Europese lande deur stemme vir regse anti-immigrasiepartye of deur toenemende protes teen massa-immigrasie hulle stem probeer dik maak, neem die persepsie egter toe dat die politieke elite geen behoefte het om iets aan die probleem te doen nie.
Sedert die wrede aanval in Southport in die weste van Engeland verlede week, het duisende Britte van oral in hulle land begin opruk en aan betogings, sommige selfs gewelddadig, begin deelneem. Dit was teen Sondag duidelik dat mense siek en sat vir die massa-immigrasie van die afgelope paar jaar was. Die Britse premier, Keir Starmer, het die betogers as verregses beledig en het gedreig om hard teen hulle op te tree.
Die ook reeds afgestorwe Britse denker Roger Scruton het ’n paar jaar gelede verwys na ‘n soort welmenende sensuur wat onder die Europese elite heers, wat hulle toelaat om slegs na die sosiale en kulturele gevolge van immigrasie te verwys deur immigrantegemeenskappe te ondersteun en hul gashere te kritiseer. Die uitsprake van leiers soos Starmer, maar ook die Franse president, Emmanuel Macron, die Duitse kanselier, Olaf Scholz, en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, dat immigrante ’n groot bydrae tot Europa lewer en dat mense wat teen massa-immigrasie is, bloot regse rassiste is, is presies hierdie elitistiese sensuur waarna Scruton verwys het.
Verlede jaar het daar meer as een miljoen immigrante, wettig en onwettig, in Brittanje aangekom. Hierdie mense kom van oral ter wêreld, maar veral uit Derdewêreldlande in Afrika, die Midde-Ooste en Asië. Dieselfde oorweldigende stroom van immigrante arriveer daagliks in die meeste Westerse lande. Elke pleidooi van burgers teen massa-immigrasie word as populisties, regs of rassisties afgemaak. Terwyl die politieke elite met hulle werk voortgaan, moet gewone burgers in Westerse samelewings met die gevolge van massa-immigrasie saamleef. Dit is onvolhoubaar. Uiteindelik gaan die frustrasie in woede oorgaan en sal ’n teenreaksie, toenemend ook gewelddadig, voorkom. Wat ons die afgelope paar dae in Brittanje gesien het, lê vir die meeste Westerse lande voor.