Geen uitkoms vir jong werklose Suid-Afrikaners

Deur on Aug 7, 2019

Nuuskommentaar: 7 Augustus

Soos wat ongelukkig in Suid-Afrika die tradisie geword het oor die afgelope jare, het die Kwartaallikse Arbeidsmarkoorsig, wat op 30 Julie vanjaar vrygestel is, net slegte nuus vir Suid-Afrikaners ingehou.  Die werkloosheidsyfer van 29% is die hoogste in elf jaar, en was laas so hoog toe die hele wêreld in resessie gedompel is.  Hierdie syfers, terwyl werkloosheid in eerstewêreldlande rekordlaagtes bereik, toon selfs vir die man op straat hoe groot die ekonomiese uitdaging is wat Suid-Afrika tans in die gesig staar.

Die 29% werkloosheidskoers is egter nie die mees kommerwekkende syfer in dié verslag nie.  Dit is die jeugwerkloosheid van 56,2% wat oë die grootste behoort te laat rek.  Juis hulle tussen die ouderdomme van 15 en 24 ,word die swaarste getref, en trek aan die kortste ent in terme van werkloosheid, en toegang tot geleenthede.  ʼn Mens kan nie anders nie as om te wonder hoe Afrikalande soos Ghana en Rwanda dit regkry om jeugwerkloosheid onder 10% te hou, en hul ekonomie jaarliks met 5% of meer te laat groei, terwyl Suid-Afrika, die voorloper in terme van ontwikkeling in Afrika, nie die mas opkom nie.

Die antwoord is dalk eenvoudiger as wat ons besef, alhoewel dit nie werklik is wat ons wil hoor nie.  Buitelandse beleggers het as’t ware aanbeweeg, en het vertroue in projek-Suid-Afrika verloor.  Nie net buitelandse beleggers skuif hul bates nie, maar ook plaaslike beleggers, met die Oppenheimers wat onlangs al hul bates na die buiteland geskuif het, en selfs Naspers, die steunpilaar van die JSE, wat ʼn tweede notering op ʼn aandelebeurs in Amsterdam gaan soek het.  Dit is nie meer net ydele woorde en waarskuwings nie, die skrif is aan die muur.

Die mees teleurstellende van alle nuus rakende die stand van die ekonomie, en spesifiek werkloosheid, is die reaksie van die president se kant af.  Wat hy behoort te doen is om vakbonde wat die ekonomie lamlê se mag te stuit, wat hy behoort te doen is om internasionale beleggers terug te bring, nie met leë woorde nie, maar met wetgewing wat ekonomiese groei aanhelp.  In stede hiervan reik die kantoor van die President maar net ʼn verklaring uit wat sy skok met die syfers uitspreek, en noem hoe hy dink dat die probleem ernstig is.  Dit is sekerlik die werk van analiste en mediahuise om ʼn probleem as ernstig te beskryf – dit is die werk van die president om die probleem aan te spreek met daadwerklike aksie.

Jan F.E. Cilliers skryf in sy tydlose gedig “trou” die woorde “ek hou van ʼn man wat sy man kan staan, ek hou van ʼn arm wat ʼn slag kan slaan”.  Dit sou nie onregverdig wees om te sê dat die huidige regering en hul blatante vrees vir die massas, vrees vir protes, en vrees vir weerstand, in geen manier ʼn slag kan slaan nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist