Geen maklike oplossing vir wapengeweld in die VSA

Deur on

Nuuskommentaar: 9 September 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Colt Gray, ʼn veertienjarige leerling in die Amerikaanse deelstaat Georgia het verlede Woensdag met ’n vuurwapen by sy skool ingestap en twee onderwysers en twee medeleerlinge doodgeskiet. Nog nege persone is ernstig beseer. Dit was die drie-en-twintigste massaskietvoorval by ’n Amerikaanse skool vanjaar. In totaal het daar vanjaar reeds 385 massaskietvoorvalle in die VSA plaasgevind.

Sedert 2020 is motorongelukke nie meer die hoofoorsaak vir sterftes onder kinders in die VSA nie. Vanjaar is reeds die vierde jaar waarin die hoofoorsaak vir sterftes onder kinders geweervuur is. Die sterfte van kinders weens wapengeweld is onlangs deur die Amerikaanse regering as ʼn openbare gesondheidskrisis geklassifiseer.

Daar was die afgelope paar jaar ʼn groot toename in massaskietvoorvalle in die VSA. Hoewel sulke insidente by skole groot aandag trek, is dit iets wat daagliks gebeur. In ʼn stad soos Chicago vind daar elke naweek twee tot drie massaskietvoorvalle plaas. Hoewel daar vir dekades lank reeds uitdagings met sulke skietvoorvalle in die VSA is, was dit twintig of dertig jaar gelede iets wat baie min voorgekom het. Deesdae is dit egter ʼn alledaagse verskynsel.

Demokrate, soos die huidige president, Joe Biden, is oortuig dat streng wapenbeheer die probleem gaan oplos. Republikeine daarteenoor dink dikwels weer dat indien meer mense wapens dra, en dus ook byvoorbeeld personeel by skole, hierdie voorvalle sal ophou. Die probleem is dat beide partye die uitdaging te eenvoudig beskou en dat hulle standpunte só ver van mekaar verwyder is.

Daar is verskeie redes vir die geweldige toename in massaskietvoorvalle in die VSA. Wapenbesit is deel van die Amerikaanse kultuur en was nog altyd. Dit word ook deur die Amerikaanse Grondwet beskerm. In lande soos Switserland en Finland waar wapenbesit ook algemeen is, kom daar byna nooit hierdie soort skietvoorvalle voor nie. In lande soos Brittanje en Australië waar wapenbesit grootliks van die burgery ontneem is, word mense in massavoorvalle met messe doodgesteek.

So wat is die redes vir die toename in massaskietvoorvalle? In baie gevalle, soos meestal in stede soos Chicago het dit te make met bendebedrywighede wat ook dikwels aan dwelmsmokkelary verbind is.

Die skietvoorval verlede Woensdag by die skool in Georgia, is egter deel van ʼn patroon van jong mans, dikwels selfs jong seuns, wat om verskeie redes tot hierdie daad oorgaan. Toenemend hou dit verband met geestesgesondheidsprobleme en selfs identiteitsprobleme onder jong mans en in die VSA spesifiek jong wit mans. Gebroke gesinne, oordadige blootstelling aan gewelddadige videospeletjies en ʼn totale gebrek aan uitsigte oor hulle eie toekoms speel hier ʼn rol.

Die jong seun wat verlede week se aanval uitgevoer het, het vir sy veertiende verjaardag die geweer waarmee hy die aanval uitgevoer het as ʼn geskenk van sy pa ontvang. Dat wapenbesit goed en reg is, en dikwels selfs nodig, behoort ʼn gegewe te wees. Daar behoort egter in Amerika strenger reëls te wees oor die stoor van wapens en ʼn minimum ouderdom vir die besit van wapens. Dit behoort ook onwettig vir persone met geestesgesondheidsprobleme te wees om wapens te besit. Vir nou lyk dit egter onwaarskynlik of Amerikaanse politici tot ʼn vergelyk gaan kom om die veelkantigheid van hierdie probleem te hanteer. Afrikaners moet met die opvoeding van ons kinders seker maak dat dieselfde drywers vir hierdie probleme wat in Westerse lande voorkom nie by ons ook posvat nie.


Current track

Title

Artist