Nuuskommentaar: 6 Junie 2024
Deur: Herman Toerien
Toe die Congress of the People (Cope) in 2008 as wegbreekparty uit die ANC tot stand gekom het, het dit ‘n rekordgetal van 1,3 miljoen stemme vir ‘n nuweling in die daaropvolgende verkiesing getrek. Selfs die EFF, wat in 2014 op ‘n soortgelyke wyse tot stand gekom het, en meer as ‘n miljoen stemme getrek het, kon nie Cope se rekordpoging oortref nie. Nou is Cope, wat eens met sy groot opkomste baie hoop geskep het dat die ANC se rug geknak gaan word, klaarblyklik daarmee heen sonder verteenwoordiging in die Nasionale Vergedering.
Die geskiedenis van Cope en die EFF het in min of meer teenoorgestelde rigtings geloop. Cope is met die jongste verkiesing sy laaste setel in die Nasionale Vergadering kwyt en die leier, Mosiuoa Lekota, het sy uittrede aangekondig. Hierteenoor staan die EFF, hoewel met ‘n paar setels minder, steeds sterk. Die UDM het op die rand van “uitwissing” gaan draai na dit in 1997 gestig is, maar vanjaar is daar weer ‘n klein bietjie lewe ingeblaas.
Ook die amper vergete PAC het weer kop uitgesteek en sal nou weer een verteenwoordiger hê.
Vanjaar het die MK, boonop baie kort na sy stigting, Cope se rekord vir eerste deelname oortref en 1,345 miljoen stemme getrek. Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan – watter koers gaan MK nou inslaan?
Ter wille van perspektief – hierdie drie partye is nie die enigste wegbreekpartye uit die ANC nie. Daar was ander, soos Agang onder die leiding van Mamphela Ramphele wat as ‘n indrukwekkende vrou beskryf is, en nou oa Ace Magashule se African Congress for Transformation. Lg het darem een setel in die Vrystaatse Wetgewer gekry – een van die partye wat nie ‘n vol stemkwota vir ‘n setel kon kry nie, en op die grootste balans van oorblywende stemme moes staatmaak. Agang het ‘n beroep op sy ondersteuners gedoen om vanjaar vir Good te stem, wat op sy beurt van twee setels tot net een teruggesak het. Good het klaarblyklik heelwat steun aan die Patriotic Alliance (PA) afgestaan.
Uit bogenoemde wil dit voorkom asof ‘n party wat eers tot die geledere van die klein partye teruggesak het, noustrop sal trek, veral as die nuwe staatsfinansieringsmodel geïmplementeer is. Tensy so ‘n party ‘n bepaalde belangegroep verteenwoordig, en nie slegs deur beleid die mas probeer opkom nie, sal dit mettertyd moeilik oorleef.
Maar hoekom het MK, en op ‘n kleiner skaal die PA so goed gevaar? In die onlangse literatuur is heelwat geskryf oor die parallelle met hedendaagse populistiese leiers, waaronder Julius Malema, Jacob Zuma en Gayton McKenzie. Die lyne word deurgetrek na persone soos Donald Trump, Geert Wilders en Wladimir Poetin, om ‘n paar te noem. Op die oog af tel moeilikheid met die gereg in hierdie mense se guns. In plaas van swart skape word hulle martelaars wat baie steun trek. Hulle roep emosies op. Die lys van gemeenskaplikhede is lank, al verskil hulle beleidsgewys soos die dag by die nag. Gewoonlik sal hulle op enkele beleidsake fokus, wat soms met dié van ander populiste oorvleuel. In Europa en in die VSA speel die invloei van migrante wat heterogeniteit aanhelp ‘n groot rol. Dit is iets wat die PA voorop stel, en as voorwaarde vir deelname aan koalisievorming, eis dit dat die party die kabinetspos van binnelandse sake kry – juis om die vreemdelinge uit die land te kan sit. In die Wes-Kaap het die instroming van buitelanders, maar ook die “ekonomiese vlugtelinge uit die Oos-Kaap” by baie bruin mense die persepsie begin vorm dat dit die rede is hoekom werkloosheid by hulle so ‘n groot probleem is.
Die kwessie oor buitelanders in die arbeidsmark is nie al waaroor die PA stem dik maak nie. Op grond van ‘n sterk Ou Testamentiese verstaan van die Bybel steun die party Israel volkome in sy stryd teen die Palestyne, en Hamas in die besonder. In ‘n koalisie met die ANC sal so iets vonke afgee, veral solank as wat dr. Naledi Pandor nog ‘n (pro-) Hamas sê in die saak het.
Dit lyk in elk geval of Zuma se Stalingrad-strategie om nie te gaan klippe kap nie, besig is om uit te loop. Verskeie regters het al juis stem dik gemaak oor wat hulle as ‘n vertragingstaktiek beskou. Heel moontlik is sy betrokkenheid by MK toe te skryf aan die feit dat hy besef sy kierangs is besig om te braai, en dat hy gehoop het die MK sou sterk genoeg uit die stryd tree om ‘n presidensiële pardon teen vervolging te kan “afdwing.” Die indruk word ook geskep dat hy die MK gebruik om met die potensiaal van geweld sy sin te kry.
Dit is moeilik om te bepaal hoe Zuma se lot sy, en die MK se gewildheid gaan raak. Veral met die komende munisipale verkiesings kan MK met die speel van die regte kaarte nog ‘n groter faktor wees, maar dit is moeilik om te sien hoe die momentum daarna teen die “gewone” wegdrein van partye gaan oorleef. Of die dame van geregtigheid se swaard (betyds) ‘n rol gaan speel moet ook nog gesien word.
Malema sal, na sy party 5 setels in die NV moes inboet, en steun klaarblyklik veral aan die MK afgestaan het, moet kies tussen meer radikaal te raak, of meer gematig te wees. Geoordeel aan sy geskiedenis tot dusver klink dit onwaarskynlik dat hy ‘n soet seuntjie sal kan word.
Die feit dat Cope se kreeftegang aan veral leierskap(loosheid) toeskryf kan word, kan verwag word dat die volgende generasie leiers binne MK, die EFF en die ANC ‘n bepalende invloed op die partye se toekoms sal uitoefen.
Miskien sal die ANC se verlies aan alleenheerskappy beteken dat die SABC meer onverbonde word. Die oordadige gebruik van ‘n politieke kommentator soos dr. Oscar van Heerden wat oral en gereeld gebruik is, maar selde indien ooit in die kol was, het al erger begin krap.
Dit sal gematigde partye loon om die media nog doeltreffender in te span. Die reaksie van partye wat ongelukkig was oor die appèlhof se beslissing oor Kill the Boer, kill the farmer, was te min of heeltemal afwesig, en dit so vlak voor die verkiesing. Uit die leserskommentare was dit duidelik dat dit nog een kwessie is waaroor Afrikaners oor ‘n wye spektrum baie sterk voel.