Nuuskommnetaar: 12 September 2024
Deur: Herman Toerien
Die leier van een van die lidpartye van die Veelparty-handves, eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP, het sy voorspelling herhaal dat die regering van nasionale eenheid, of te wel RNE, nog “voor Kersfees tot niet sal wees.” Die ACDP is teen die RNE se vorming gekant. Maar sy nuutste stelling lyk die keer of daar ‘n groter moontlikheid is dat dit bewaarheid kan word, al is Meshoe se reputasie as profeet twyfelagtig, soos reeds twee aankondigings oor sy uittrede waarvan daar dadels gekom het.
Die RNE het in die aanloop tot die stigting daarvan, en sedertdien, oor ‘n wye front onder skoot gekom, maar ook reeds emmers vol lof gekry vir die werk wat nie-ANC-ministers doen. Die vernaamste kwelling is dat die afgelope verkiesing vir baie kiesers veral daarop gemik was om die ANC as regerende party te vervang. Dit is geen geheim dat baie kiesers die ANC as ‘n bewegende ongeluk, en ook deurspek van korrupsie, beskou nie.
Hierdie ideaal is ten dele behaal deurdat die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid op nasionale vlak kon behaal nie. Boonop het die totstandkoming van die MK-party dit vir die ANC effektief onmoontlik gemaak om ‘n koalisie met sekere partye soos die EFF en MK te vorm, wat soos die SAKP en ander vennote van die ANC, tot die sogenaamde progressiewe partye behoort.
Geen nugterdenkende mens kan dink dat ‘n koalisie gelei deur “progressiewe” partye, vakbonde en faksies binne die ANC, asook die immer-teenwoordige SAKP, vir die land enige heil sou kon inhou nie. Breedweg kan hierdie soort “progressiwiteit” as ‘n eufemisme vir Marxistiese sosialisme beskou word. As president het Zuma dit in ‘n toespraak gestel dat dit die ANC se ideaal is om Suid-Afrika in ‘n sosialisties-kommunistiese staat te omskep.
Oor die voordele of nadele van die vorming van die RNE sal nimmereindigend gedebatteer kan word. Wat egter duidelik is, is dat die vorming daarvan die prestasies, werksetiek, bekwaamheid en nuwe vastrapplek wat nie-ANC-ministers in die proses gekry het, dadelik ‘n groot verskil gemaak het. Trouens, dit het soveel goeie nuusdekking gekry dat ANC-ministers duidelik dikbek daaroor was omdat hulle in die proses swak lyk. Boonop kry die, soos oud-pres Jacob Zuma dit stel, Ramaphosa se ANC, hewige kritiek vanuit die progressiewe geledere binne die ANC se eie strukture.
Die alternatief, op die oog af, is dat die ANC ‘n meerderheid moet vorm deur ‘n alliansievorming met of die EFF of MK. Dit behoef geen profeet om enige van hierdie opsies as ‘n versnelde ramp in vergeleke met die ANC op sy eie te beskou nie. Die EFF het nou skynbaar ook die virus ingekry wat ander ANC-wegbreekpartye soos Cope en die UDM gesink het, terwyl die MK die een, weliswaar gebrekkige reddingsboei, die grondwet verwerp. Trouens, die nasionale skikking wat tot die nuwe bedeling gelei het, word ook verwerp. Dit is duidelik dat Zuma se afkeer in die huidige regstelsel spruit uit die invloed wat die grondwet op howe uitoefen wat ongrondwetlike optredes van die meerderheid fnuik. Anders gestel, hy staan ‘n regeerstelsel voor wat bekend staan as die diktatuur / tirannie van die meerderheid.
Volgens ‘n koerantopskrif vanoggend is Ramaphosa ontsteld oor die herrie wat sy voorgenome ondertekening van die Bela-wetsontwerp veroorsaak het, en die voortbestaan van die RNE bedreig. Was hy dan hieroor, soos in die geval van die aanstelling van sy minister van justisie, dan bitterlik swak deur sy adviseurs geadviseer? Dis nie net politieke partye soos die DA, Vryheidsfront Plus, Action SA, en die ACDP wat vanuit die staanspoor bitterlik daarteen gekant was nie en aangedui het dat regstappe gaan volg om die grondwetlikheid daarvan te betwis nie, maar ook verskeie belangrike burgerlike organisasies, soos AfriForum en Solidariteit? Volgens ‘n berig in IOL is selfs die EFF ook teen die wetgewing gekant.
Baie van hierdie partye en instansies stel ook die slagordes op om die nuwe nasionale gesondheidswet wat reeds onderteken is, met alle mag deur die howe te beveg. Op die oog af lyk dit na ‘n juridiese slagveld wat getakel gaan word wat Zuma se Stalingrad-taktiek, wat oa nou ‘n appèl oor ‘n aspek waar hy reeds in die Grondwetlike hof aapstert gekry het insluit, na ‘n kleuterpoging sal laat lyk.
Die vraag is nou eerstens of Bela die RNE gaan laat sneuwel. Ramaphosa het moontlik gedink dat die positiwiteit wat die RNE by mense gebring het, swaarder gaan weeg as die omstrede bepalings in die wetsontwerp. Maar gaan veral Afrikaanssprekende burgers ‘n bepaling laat goedkeur wat hul moedertaal, veral in die onderwys, se voortbestaan bedreig? Diegene wat hieroor die hakke inskop het juis ‘n belangrike wapen – verslae wat daarop dui dat ongeveer die helfte van die leerlinge wat hoërskool toe gaan, nog funksioneel ongeletterd is omdat hulle nie in hul moedertaal onderrig is nie.
Dit is seker moontlik om met die RNE voort te gaan terwyl lidpartye die einste regering in die howe beveg. Die gevaar bestaan egter dat die onderlinge gevegte die regeertaak van die regering deurlopend sal ondermyn, en onder meer ruimte laat vir korrupsie en ander misdaad om teen ‘n versnelde tempo toe te neem.
Meer as die kyk van rugbytoetse op SABC se oop kanale is met die RNE op die spel. Met die keuses van portefeuljes vir ministers uit ander partye van die RNE is dit duidelik dat sommiges van hulle bedoel was om sg “hospitaal-aangeë” te kry. Maar die suksesse wat reeds behaal is en dit wat belowend lyk, asook die gesonder gees vir ekonomiese vooruitsigte sal seker ook punte moet tel. Intussen sal opposisiepartye ook die spelreëls moet leer ken van hierdie soort regering. Sedert die verkiesing was daar reeds ‘n slagting, en nie te in die kleine nie, op plaaslike regeringsvlak waar burgemeesters as’t ware soos albasters gespeel is. Veral is daar geen ruimte vir ‘n grootboet-houdings nie. En dis ‘n les wat Ramaphosa ook meer gerus in sy pyp kan stop en rook.