Florida se goewerneur, Ron DeSantis, het ’n wet bekragtig wat kinders jonger as 14-jaar verbied om toegang tot sosialemediaplatforms te hê. Dít, nadat ander state in Amerika dieselfde wetgewing probeer instel.
Dié Florida-wetgewing bepaal ook dat ouertoesig verpligtend is vir kinders van 14- en 15-jaar wat rekeninge op Meta se platforms asook op TikTok het.
Hoewel ouer kinders nie aan beperkings onderwerp word nie, dwing die wetgewing alle sosialemediagebruikers om identiteitsdokumente in te dien om hul ouderdomme te bevestig.
DeSantis sê dié wet, wat as Huiswet-3 bekend staan, verleen aan ouers beter beheer om hul kinders te beskerm. Die wetgewing vorm deel van ’n groter aanslag teen sosialemediamaatskappye te midde van toenemende kommer oor die gevolge van sosiale media op kinders se geesteswelstand en dié maatskappye se beweerde rol in die verspreiding van seksueel-eksplisiete inhoud.