fbpx

Europese leiers staan voor belangrike besluite

Deur on Des 3, 2019

Nuuskommentaar: 2 Desember

Die afgelope dekade is nuus uit Europa eers gedomineer deur ‘n finansiële krisis, toe ‘n immigrasie-krisis en nou met ‘n klaarblyklike klimaatskrisis. Tussendeur dit alles het die vraagstukke van voortdurende terreurbedreigings, groterwordende minderheidsgroepe wat integrasiebeleid onwerkbaar begin maak het en veranderende verhoudinge met Rusland, die VSA en Turkye gereeld tot beleidsonsekerheid aanleiding gegee.

In Mei vanjaar het sowat 200 miljoen kiesers in 28 Europese lande na die stembus gegaan om 751 lede tot die Europese Parlement te verkies. Deelname aan vanjaar se verkiesing was sowat 8% hoër, die eerste keer in meer as twintig jaar dat die stempersentasie in die Europese verkiesing gestyg het. Net meer as 50% van stemgeregtigde burgers het hulle kruisies getrek. Die toename in deelname dui op ‘n verhoogde bewussyn onder Europese burgers van die dringende aard van sommige uitgdagings wat die kontinent en natuurlik die Europese Unie in die gesigstaar.

Kiesers het aangedui dat die kwessies wat hul deelname gedryf het veral ekonomiese groei, immigrasie, omgewingsake, demokrasie en menseregte was. Verlede week het die nuutverkose lede hulle eerste sitting na die verkiesing by die Europese Parlement in Strasbourg, in die ooste van Frankryk gehad. Die 751 lede van die Europese Parlement vergader een uit elke vier weke in Strasbourg waar belangrike besluite deur die Parlement goedgekeur word. Die res van die tyd werk hulle vanuit Brussel in België.

Tydens verlede week se sitting het die nuwe president van die Europese Kommissie, die voormalige Duitse Minister van Verdediging, Ursula von der Leyen, haar visie van ‘n sterker Europa bevestig. Verder het die Europese Parlement verlede week sy begroting vir 2020 wat met meer as 3% vanaf 2019 styg, goedgekeur. Die Parlement het ook besluit om ‘n omgewingsnoodtoestand af te kondig. Hoewel dit slegs van simboliese waarde is, bevestig dit die prioriteite wat die EU vir die volgende paar jaar gaan navolg.

Na die verkiesing in Mei het sommige analiste gevra of politiek in Europa tans deur angs gekenmerk word. Onsekerheid oor toekomstige ekonomiese groei, ‘n moontlike heropvlam van terreurdade, klimaatsverandering en die vraagstukke van immigrasie, diversiteit, grense en identiteit wat almal met mekaar verband hou, is oorsake van angs onder sommige Europeërs.

Die NAVO-beraad in Engeland en meningsverskille tussen veral Donald Trump, Emmanuel Macron en Angela Merkel oor die toekoms van NAVO laat ook vrae ontstaan oor hoe Europa na sy eie veiligheid in die toekoms gaan omsien. Trump soek ‘n sterker Navo wat beter befonds word, terwyl Macron een Europese weermag nastreef.

Die probleem vir ons as buitestanders is egter om te verstaan tot watter mate gebeure uit die geskiedenis, en veral die Tweede Wêreldoorlog, steeds op die psige van Europeërs inspeel. Die drang om enige nuwe katastrofie te voorkom, oordonder dikwels alle ander prioriteite.

Of Von der Leyen se sterker Europa genoeg gaan wees om Europa vir ‘n toekoms vol nuwe uitdagings voor te berei, is onseker. Massa-immigrasie gepaardgaande met ‘n snel verouderende Europese bevolking, ernstige strukturele ekonomiese uitdagings, die toename van globale invloed deur moondhede in Asië, klimaatsuitdagings en terreurbedreigings gaan Europese leiers oor die volgende paar jaar besig hou. Of die nodige moeilike besluite en kragdadige optrede wat in antwoord hierop vereis moet word, onderneem gaan word, sal bepaal of Europa haar posisie in die wêreld sal behou of prysgee.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist