fbpx

Europa se oosgrens bly ‘n strydpunt

Deur on Nov 12, 2019

Nuuskommentaar: 12 November

President Emmanuel Macron van Frankryk het verlede week ‘n diplomatieke krisis veroorsaak toe hy in ‘n media-onderhoud gesê het dat Bosnië Herzegowina ‘n tydbom is wat vir die Europese Unie ‘n ernstige bedreiging inhou. Macron se uitspraak en Frankryk se onlangse teenstand teen die insluiting van Albanië en Noord-Masedonië as lidlande van die Europese Unie, moet egter binne ‘n groter konteks van uitdagings in die Balkan-streek verstaan word.

Die strategiese ligging van die Balkan het oor eeue tot verskeie oorloë aanleiding gegee en die rol van ryke soos die Bisantynse Ryk, Ottomaanse Ryk en die Oostenryks-Hongaarse Ryk het langtermyn uitdagings vir dié streek geskep. So onlangs as die laat 1990’s was daar nog oorlog in sommige Balkan-lande, maar sedertdien het die streek ‘n groter mate van stabiliteit en vrede begin ervaar.

Weens die strategiese ligging van die Balkan heers daar ‘n groot stryd om invloed in dié streek. Terwyl die Europese Unie se lidmaatskap stelselmatig na Oos-Europa en die Balkan uitgebrei het, probeer lande soos Rusland en Turkye ook hul invloed hier behou. Rusland wil sy invloed in lande soos Serwië en Noord-Masedonië gebruik om NAVO se uitbreiding in Oos-Europa te stuit. Turkye probeer sy invloed in die streek behou deur lande soos Albanië en Bosnië wat beide groot Moslembevolkings.

President Macron se bekommernis oor Bosnië hou direk verband met Moslem Jihadiste wat vanuit Sirië na Bosnië reis om uiteindelik die Europese Unie se grondgebied te betree. Kroasië grens direk aan Bosnië en die grens tussen dié twee lande is berug as ‘n gunsteling roete vir onwettige immigrasie na Wes-Europa.

In die Balkan is dit nog net Bosnië, Albanië, Serwië, Noord-Masedonië en Montenegro wat nie deel van die Europese Unie is nie. Hulle word omring deur lande soos Roemenië, Bulgarye, Griekeland, Kroasië en Hongarye wat reeds deel van die EU is. Terwyl Macron reg is oor sy kommer dat gevaarlike Jihadiste wat aanvalle in Wes-Europa wil loods, in Bosnië gehuisves word, is die probleem selfs groter.

Grensbeheer is oor die algemeen ‘n ernstige probleem in Oos-Europa en hoewel ‘n land soos Hongarye deeglike stappe geneem het om onwettige immigrante uit te hou, is dit nie die geval vir die meeste ander lande in die streek nie. Daar is dus verskeie roete-opsies tot die beskikking van gevaarlike terroriste wat na Wes-Europa wil reis. Tweedens is daar natuurlik honderde, dalk selfs duisende, gevaarlike jihadiste wat vir die Islamitiese Staat in Sirië geveg het en wat burgerskap in lande soos Frankryk, België, Nederland, Spanje en Duitsland het. Hierdie terugkerende jihadiste hou net so ‘n groot veiligheidsbedreiging in Wes-Europa in.

Terwyl die uitbreiding van NAVO in Oos-Europa en veral die Balkan uiters riskant is in die verhouding tussen die Weste en Rusland moet Europese lande besin oor die toekomstige rol van die Europese Unie. Sonder ‘n strewe om die identiteit en karakter van Europese volkere te beskerm sal die bewaking van die buitegrense van die EU nooit genoeg van ‘n prioriteit wees nie en sal onwettige immigrante maniere bly vind om Wes-Europa in te stroom. Uitbreiding van die EU in die Balkan maak slegs sin indien dit gepaardgaan met die vestiging van goeie grense.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist