Ekonomiese en politieke onsekerheid neem toe in Europa

Deur on Aug 13, 2019

Nuuskommentaar: 13 Augustus

Die Europese Unie het onlangs die nuutste Eurobarometer bekendgestel. Die Eurobarometer ondersoek die standpunt van burgers in EU-lidlande. Volgens die nuutste resultate is immigrasie steeds die belangrikste knelpunt in Europa, terwyl ekonomiese uitdagings vervang is deur klimaatsverandering, wat nou die tweede posisie beklee. Ekonomiese sake is volgens die nuutste barometer nou in die derde plek.

Verder is ook bevind dat daar ‘n afname in burgers in EU-lidlande is wat wil hê die land waarin hulle woon, moet uit die Europese Unie tree. Hierdie tendense is in pas met die uitslag van die Europese verkiesing vroeër vanjaar waarin talle politieke partye wat teen die Europese Unie gekant was, hul retoriek verander het om groter klem op nasionale soewereiniteit en eerder die inperk van die EU se magte te plaas. Ook die grootskaalse kommer oor massa-immigrasie en klimaatsverandering het in die verkiesing se uitslae reflekteer. Tog heers daar heelwat politieke en ekonomiese onsekerheid in Europa.

Die Europese media gons veral die afgelope paar dae oor die moontlikheid van ekonomiese probleme in Duitsland. Dit volg nadat produksiesyfers in Duitsland ’n afswaai in ekonomiese aktiwiteite aangedui het. Daarmee saam het die Britse ekonomie in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,8 persentasiepunte gekrimp. Ook in ander Europese lande word van ’n komende resessie gepraat. 

Op politieke terrein het verwikkelinge in Italië en die toenemende swak posisie van Europa se bekendste leiers soos Angela Merkel en Emmanuel Macron die afgelope paar dae tot heelwat onsekerheid aanleiding gegee. Die gewilde adjunk- eerste minister van Italië, Matteo Salvini, het verlede week besluit om sy Lega-party se koalisieregering met die Vyfsterbeweging te beëindig. ‘n Vroeë verkiesing in Italië is teen Oktober moontlik met Lega wat tans byna 40% van die kiesers se steun in peilings geniet. Dit is die beste posisie van enige politieke party in Italië sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

’n Verkiesing in Italië en ’n moontlike Salvini-regering maak heelwat burokrate en politieke leiers in Brussel senuweeagtig. Salvini belowe reeds verlaagde belastingkoerse om die Italiaanse ekonomie ’n hupstoot te gee. Laer belasting in Italië kan oor die kort termyn tot groter begrotingstekorte aanleiding gee, wat weer tot ’n geskil met die Europese Unie kan lei.

In Brittanje gaan Boris Johnson voort met sy onderneming om Brittanje teen 31 Oktober uit die Europese Unie te neem. Hy belowe ook reeds ’n wesenlike ekonomiese stimuluspakket om die korttermyn- negatiewe gevolge van Brexit te oorkom. Intussen het die Britte oor die afgelope paar dae reeds gesprekke met die Amerikaanse regering oor ‘n handelsooreenkoms begin voer. Dit veroorsaak reeds senuagtigheid in die res van Europa.

Terwyl sommige van die ekonomiese uitdagings aan die handelsoorlog tussen die VSA en China toegeskryf kan word, het Europa sonder twyfel groter uitdagings. Lae vertroue in politieke leiers, linkse en regse kiesers se verwerping van globalisme en die na-oorlogse politiek van multilaterale ooreenkomste en instellings is belangriker oorsake van ekonomiese en politieke onsekerheid.

Dit is duidelik dat Europese burgers ten gunste is van lidmaatskap van die Europese Unie, sou dié instelling se magte wesenlik ingeperk word. Voorts soek kiesers ekonomiese sekerheid en beskerming, laer immigrasie en groter omgewingsbewustheid. Hierdie faktore gaan Europa in die volgende paar jaar help vorm. Dit beteken waarskynlik ’n groot herskikking van politieke en ekonomiese verhoudinge.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist