31 Oktober 2024
Die geskorste Openbare Beskermer, advokaat Busisiwe Mkhwebane, sê haar lyding word elke dag vererger wat sy nie ‘n R10 miljoen-gratifikasie uitbetaal word nie.
Sy wil nou die Grondwethof op ‘n dringende grondslag nader om te beslis dat haar voormalige kantoor wél dié afskeidsbonus aan haar uitbetaal – nadat verskeie laer howe haar versoek afgekeur het.
Mkhwebane sê dit is in die belang van geregtigheid dat die land se hoogste hof spoedig optree en beslis dat dié bedrag aan haar uitbetaal word en dat sy geregtig is daarop.
Vroeër vandeesmaand het die hooggeregshof in Gauteng Mkhwebane se aansoek – om die kantoor van die OB te verplig om dié geld aan haar uit te betaal – van die hand gewys.
Mkhwebane het verlede jaar by die EFF as parlementslid aangesluit, maar het bedank waarna sy by die MK aangesluit het as sameroeper in Mpumalanga.