8 Februarie 2024
Die EFF-leier, Julius Malema, en vyf ander parlementslede van dié party se poging om vanaand die staatsrede by te woon is ‘n nekslag toegedien.
In ‘n uitspraak vanoggend deur ‘n volbank van die Wes-Kaapse hooggeregshof het dié hof die aansoek – om die parlementslede se skorsing ter syde te stel – van die hand gewys.
Malema, die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, die sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, die senior lede, Vuyani Pambo en Mbuyiseni Ndlozi, asook die partywoordvoerder, Sinawo Tambo, is vir ‘n maand lank geskors nadat hulle verlede jaar die staatsrede ontwrig het.
Die party het in reaksie op die beslissing gesê dat dit onwettig en onaanvaarbaar is. Volgens die party is die hof in president Cyril Ramaphosa se kamp, en het daarom ‘n sogenaamde vendetta teen die EFF.
Die verklaring sê weens die beslissing sal géén EFF-lede die staatsrede bywoon nie, en eerder fokus op die bekendstelling van sy manifes die komende naweek.