Nuuskommentaar: 21 November 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Sondag se verkiesing van Javier Milei, ʼn eksentrieke libertariese ekonoom en politieke buitestaander, as Argentinië se nuwe president het reeds vir ʼn reuse-opskudding gesorg. Milei, wat in byna elke peiling agtergeloop het teen Sergio Massa, Argentinië se huidige minister van ekonomie en ʼn lid van die magtige regerende Peronistiese beweging wat Argentinië reeds vir dekades regeer, het uiteindelik Sondag se verkiesing gemaklik met 56% van die stemme gewen.
Argentinië was ʼn eeu gelede nog een van die tien rykste lande ter wêreld. Vandag leef 40% van die bevolking in armoede. Die land se inflasie staan op 143%. Die Argentynse peso het reeds 90% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor.
Milei se veldtog was radikaal. Hy stel voor om die peso met die dollar te vervang, Argentinië se sentrale bank te sluit, handel met kapitalistiese nasies soos die VSA bó handel met China te prioritiseer en om verskeie staatsdepartemente te sluit in ʼn poging om Argentinië se reusebesteding hok te slaan.
Sondag se verkiesing van Milei dui op hoe desperaat ʼn meerderheid van Argentyne tans is. Dit dui egter ook op die bereidwilligheid van ʼn meerderheid van kiesers om verby die gevestigde politieke orde te tree en ʼn radikaal-konserwatiewe politikus die geleentheid te bied om hulle land op ʼn totaal nuwe koers te plaas.
Milei se verkiesing sluit aan by die verkiesing van Nayib Bukele as president van El Salvador in 2019. Toe Bukele, ook ʼn politieke buitestaander, verkies is, was El Salvador een van die lande met die hoogste misdaadsyfer ter wêreld. Hierdie klein landjie in Sentraal-Amerika met 6,3 miljoen burgers, word omring deur selfs meer sukkelende lande soos Honduras en Guatemala, en geweldsmisdaad en korrupsie het dié land tot onlangs lamgelê.
Bukele is toe in 2019 as president verkies en hy het onderneem om die misdaadprobleem en korrupsie onmiddellik aan te spreek en die land se ekonomie te laat groei. Nou, vier jaar later, toon die resultate dat Bukele se radikale planne vir El Salvador toenemend geslaagd is.
El Salvador se moordsyfer het sedert Bukele verkies is tot ʼn historiese laagtepunt gedaal. Daar vind tans 50% minder moorde per jaar plaas as voor sy verkiesing. Meer as 71 000 bendelede is in vier jaar deur duisende nuwe polisielede in hegtenis geneem, suksesvol vervolg en tronk toe gestuur.
Vandag is korrupsie in El Salvador aansienlik minder en bendegeweld is grootliks uitgewis. Die gevolg hiervan is toenemende buitelandse beleggings wat tot gesonde ekonomiese groei lei.
Beide Milei en Bukele is konserwatief, maar ook radikaal in hulle politieke denke oor watter soort oplossings vir ernstige ekonomiese en ander uitdagings nodig is. Sou Milei daarin slaag om Argentinië oor die volgende paar jaar uit sy diepliggende krisis te lei, kan hy saam met Bukele en ʼn groeiende nuwe groep wêreldleiers ʼn werklike alternatief tot die huidige gevestigde orde daarstel.
Verkiesings vandeesweek in Nederland, asook in talle ander Europese lande soos België en Oostenryk oor die volgende paar maande, kan ʼn aanduiding gee of ʼn wêreldwye verskuiwing weg van die ou politieke orde besig is om te ontwikkel. Intussen kan ons gerus dophou wat in Argentinië en El Salvador gebeur.