9 Januarie 2025
Een persoon is dood, en minstens 20 is beseer na ‘n grondstorting vroeër vandag by die Blyvoor-goudmyn in Carletonville in Gauteng wat deur twee aardskuddings veroorsaak is.
Volgens die Raad vir Geowetenskappe het twee aardskuddings van sowat 2,7 in sterkte omstreeks 09:30 vanoggend in die Carletonville-omgewing plaasgevind.
Die Carletonville en Fochville Herald berig dat ‘n mynwerker dood is. Die koerant berig verder dat twee mynwerkers ernstig beseer is, terwyl die 18 ander se beserings van ernstig na minder ernstig wissel.
Die woordvoerder van die mynwerkersvakbond, NUM, Livhuwani Mammburu, sê die vakbond doen ‘n ondersoek na die voorval.