5 Desember 2023
Die dodetal ná die ongeluk by Impala Platinum se Rustenburg-myn (Implats), het tot 13 gestyg.
Luidens ’n verklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, het ’n mynwerker gister in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
LEES OOK: 11 MYNWERKERS DOOD, 75 BESEER TOE HYSBAK VAL
Die myn se woordvoerder, Johan Theron sê van die meer as 80 mynwerkers wat in die ongeluk betrokke was, is 23 ontslaan, en van die 50 wat nog in die hospitaal is, is agt in ‘n kritieke toestand.
Die voorval is na bewering veroorsaak deur ‘n probleem met die skag se hysbak-stelsel, wat werkers op en af in die ondergrondse skag hys.
Die maatskappy sal na verwagting môre ‘n gedenkdiens hou om die werkers wat omgekom het te vereer. Theron sê die name van die oorledenes sal eers môre tydens die gedenkdiens bekend gemaak word.