fbpx

Dit is nou tyd vir vorentoe kyk – deur terug te kyk

Deur on Aug 3, 2020

Nuuskommentaar: 3 Augustus

Deur: Hannes Noëth

Tussen Covid 19, plaasaanvalle en vinnige vallende ekonomië wereldwyd kan ‘n mens amper nie glo dat besprekings oor beelde en monumente steeds en weer aktueel is nie.  Tog maak dit sin.  Waar mense onseker raak en vrae begin vra oor die toekoms is dit heel normaal om terug te kyk voor ‘n mens vorentoe  kyk.  Hierdie terugkyk word baie geanker en gestimuleer deur die staan by monumente. Grafte, beelde en monumente laat mens lees, studie doen, onthou en navors.  Daarom is dit ook nie verbasend dat daar wereldwyd oor beelde, monumente en museums weer gesprekke plaasvind nie.  Aan die een kant wil mense uitroep – monumente in gesprek terwyl Rome brand! Aan die ander kant roep mense uit – juis omdat Rome brand laat ons onthou!  Ons hier in Suid-Afrika spring dit nie vry nie. Van tyd tot tyd hoor ons hoe beelde en monumente bedreig word, selfs geskend word, verskuif word en gesprekke oor verdere verskuiwings gevoer word.  Die pas vrygestelde lied van die sanger Ruhan du Toit “Monumentaal” beklemtoon en bevestig die “nuwe” aktualiteit van gesprekke hieroor.  Die hartklop  van hierdie gesprekke is egter wesenlik belangrik.  Juis in tye van swaar en uitdagende vraagstukke is dit nodig om by die grafte en beelde en monumente van die verlede te gaan staan en daarin hoop vir die toekoms te skep.  Dit is juis nou die tyd om met ons kinders en kleinkinders voor ‘n Japie Greyling in Hoopstad te gaan staan, by Louw Wepener in Bethulie en by die stuk sement voor die kerk met wa-spore deur.  Dit is nou die tyd om die berg Majuba te gaan klim en Bloedrivier te besoek.  Dit is tyd om die ou Statebijbel af te stof en dit is tyd om die ou meultjie van ouma en oupa in die voorhuis op te hang.  Dit is nou belangrik om die Voortrekkermonument, wat se inkomstestrome afgesny is in Covid19 tyd, weer te gaan besoek en dit is die moeite werd om te ry tot in die naaste begraafplaas en te gaan besin oor lewe en dood.  Deur hierdie opsoek van geskeidenis word ons almal gekonfronteeer met die tydelikheid van ons eie bestaan, met die roeping wat ons het in die tyd waarin ons leef en met die toekomshoop wat altyd daar is.  Die geskiedenis getuig daar is n toekoms. 

  • Ons moenie huiwer om voor ‘n graf te gaan staan en daarin lewe te hoor nie.
  • Ons moenie huiwer om voor ‘n klipstapel te staan en te vra wat leer ek hier nie.
  • Ons moenie huiwer om voor die monumente wat daar is ons toekomspad te gaan soek nie. 

Ons kan nie die geskiedenis verander nie, maar ons kan dit onthou, daaruit leer en vorentoe werk en droom en leef en bou. 

As ons moed verloor sal die klippe uitroep dat daar al armoede was en onreg, moorde en oorloë, vreugdes en dae van nuut begin.  ‘n Geslag wat die gawe het van onthou en terugkyk is ‘n ryk geslag en ‘n geslag vir wie daar ‘n toekoms blink. 


Lees verder

Current track

Title

Artist