20 Februarie 2024
Die Outomobiel Assosiasie, die AA het ‘n beroep op die minister van finansies, Enoch Godongwana gedoen om mooi te dink voordat hy brandstofheffings verhoog wanneer hy môreaand sy begrotingsrede lewer.
Die AA sê in ‘n verklaring dat die algemene brandstofheffing (GLF) en die padongelukkefondsheffing (RAF) tans ongeveer R6,13 tot die totale prys per liter brandstof bydra. Volgens die AA moet die minister dink aan hoe dit die gemiddelde verbruiker en motoris sal raak indien heffings verhoog word.
Die organisasie sê buurlande, wat brandstof direk vanaf Suid-Afrika aankoop, sit nie die heffings by nie, wat beteken hulle kan die brandstof goedkoper in hulle lande verkoop as wat Suid-Afrikaners daarvoor betaal.
Die AA meen die feit dat buurlande goedkoper betaal vir brandstof laat die vraag ontstaan waarom die Suid-Afrikaanse verbruiker brandstofheffings moet betaal, en waarvoor dit presies aangewend word.