fbpx

Die wat staan is braaf

Deur on Jul 31, 2020

Nuuskommentaar: 31 Julie

Deur: Werner Human

Dit verbaas my altyd hoe vinnig ’n tendens kan vorm en posvat. Dit strek van tendense wat ’n prettige tema dra, soos om jou vriende op sosiale media uit te daag om op ’n sekere wyse aan te trek of iets te doen, tot tendense wat sterk politieke temas dryf.

Die #Blacklivesmatter-beweging in besonder het ’n vlaag van tendense teweeggebring, met internasionale trefkrag, wat onder andere insluit dat sosiale media verbruikers ’n swart blokkie as profielfoto opsit, en dalk ’n kommentaar of twee maak ter ondersteuning vir dié beweging.

Dit het algemeen geword dat bekendes hierdie tendens aanhang, wat die gewildheid van dié tendens in geheel ’n reuse-hupstoot gee. Veral in die internasionale sportgemeenskap het hierdie tendens vlamgevat.

Dit het tot gevolg dat ’n groot mate van druk op sporthelde geplaas word om te konformeer tot die opnuut gewilde openbare gebaar om #BlackLivesMatter te ondersteun deur ’n knie te buig tydens nasionale liedere of voor die aanvang van ’n wedstryd.

Bekende Suid-Afrikaanse sporthelde het onlangs hul knie gebuig voor die aanvang van ’n krieketwedstryd om hul steun aan die #BlackLivesMatter-beweging openbaar te maak.

Eweneens, net so opmerklik as die groepe van sporthelde wat die tendens volg,  word individue uitgesonder wat kies om nié die tendens te volg nie.

Sam Coonrod, ’n bofbal-speler van die San Francisco Giants, het homself onlangs in daardie situasie bevind. Uit sy hele span en ondersteuningspersoneel, was hy die enigste persoon wat nie sy knie voor die aanvang van hulle wedstryd teen die Los Angeles Dodgers gebuig het nie.  

Hy het gesê as ’n Christen het hy ’n geloofsbeswaar daarteen, en verder is hy nie gemaklik met die Marxistiese-trekke wat  die #BlackLivesmatter-beweging, na sy mening, toon nie.

Sy innerlike oortuiging behoort genoegsaam te wees, maar was hy onderworpe aan vel kritiek omrede die voorstanders van die #Blacklivesmatter-beweging nie vir sy verduideliking te vinde was nie.

Op eie bodem, het oud-Protea-krieketspelers Pat Symcox en Boeta Dippenaar wedersyds deurgeloop onder kritiek omrede hul aangedring het op ’n #AllLivesMatter-beweging. Sam Coonrod, Pat Symcox en Boeta Dippenaar sou nie as individue uitgestaan het, indien hulle bloot steun toegesê het aan die #BlackLivesMatter-beweging nie.

Professor Jordan Peterson, ’n kliniese sielkundige verbonde aan die Universiteit van Toronto, beskryf die tendens van menslike natuur om te konformeer as ’n verskynsel wat beide goeie en slegte kwaliteite dra. Dit is ‘goed’ om te konformeer met gebruike wat oor eeue gevorm het en deel vorm van tradisie.

Dit is ‘sleg’ indien tradisies of bewegings nadelige gevolge inhou of ‘die pad byster raak’. Dit is daar waar die behoefte om te konformeer, eerder spruit uit die begeerte om nie uitgeken te word as iemand wat gekant is teen ’n bepaalde gebruik of tendens nie.

Daar kan heelwat uitgebrei word oor die ewolusie van die #BlackLivesMatter-beweging, wat oorspronklik begin het as ’n beweging om lig te werp op beweerde polisie brutaliteit teenoor swart Amerikaners. Nou het dit verander in ’n beweging wat as anti-Amerikaans met sterk Marxistiese-eienskappe beskou kan word.

Daar kan ook heelwat uitgebrei word of Suid-Afrikaanse sport, wat reeds verpolitiseer is, nog ‘n verdere politieke dimensie moet bykry.  

Benewens die vertakkings en rits debatte wat die #BlackLivesMatter-beweging uitlok, kan daar ’n oomblik afgestaan word aan diegene wat te midde van die druk om te konformeer, sterk gestaan het en gehou het by hul oortuigings.

 Dít is braaf.


Lees verder

Current track

Title

Artist