Nuuskommentaar: 14 Februarie 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Die bekende en omstrede Amerikaanse televisieaanbieder Tucker Carlson het verlede week veral in die VSA en Europa wenkbroue laat lig toe hy vanuit Moskou ’n onderhoud van meer as twee ure met die Russiese president Wladimir Poetin op sosiale media uitgesaai het. Carlson was voorheen ’n aanbieder op Fox Nuus, maar bedryf deesdae sy eie alternatiewe nuusdiens. Die onderhoud met Poetin, die eerste deur ’n Westerse joernalis sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne byna twee jaar gelede, is reeds deur sowat 200 miljoen mense gekyk.
In aanloop tot die tweede herdenking van Rusland se inval in Oekraïne, bied Carlson se onderhoud met Poetin belangrike perspektief op die Russiese beweegredes vir die oorlog, maar ook die groter vraagstukke oor magsverhoudinge in Oos-Europa en die wêreld sedert die einde van die Koue Oorlog. Wat dit egter nie doen nie, is om die waarheid hieroor te verander nie.
Wat die oorlog in Oekraïne aan ons openbaar het, is steeds dieselfde. Die Weste beleef ’n tydperk van ongekende swak leierskap. Europese lande beskik nie meer oor die militêre vermoë om hulleself te verdedig sonder hulp uit die VSA nie. In Amerika is daar ’n groot nuwe breuk tussen diegene wat steeds glo dat Amerika ’n belangrike rol as internasionale waghond moet speel en diegene wat toenemend steun werf vir ’n baie meer terughoudende Amerikaanse buitelandse beleid wat laas voor die Eerste Wêreldoorlog gegeld het.
Wat egter ook sedert die uitbreek van die oorlog duidelik geword het, is die omvang van verspeelde kanse deur die Weste om Rusland ná die einde van die Koue Oorlog as bondgenoot nader te trek. In die Carlson-onderhoud skep Poetin oor verskeie kwessies sy eie historiese werklikhede, maar waaroor hy wel reg is, is dat Rusland tydens die 1990’s nader aan die Weste wou posisioneer, maar dat dit deur Europa, Navo en veral die veiligheidsmagte in die VSA verhoed is.
Nog ’n werklikheid wat deur die oorlog geopenbaar is, en wat nie in die doodsnikke van die Koue Oorlog in die 1980’s gegeld het nie, is die toenemende potensiaal vir lande soos Rusland en Iran om ten spyte van isolasie deur Westerse sanksies, steeds ekonomies voort te beur weens bande met lande soos China, Indië en snelgroeiende ekonomieë in Asië en die Midde-Ooste. Ten spyte van reusesanksies teen Rusland kon die Russiese ekonomie die afgelope twee jaar aanhou groei weens nouer handelsbande met die sogenaamde Globale Suide.
Wladimir Poetin slaag uitstekend daarin om Westerse swakpunte te ontbloot en daaruit munt te slaan. Poetin en sy outoritêre bewindsoorname van Rusland die afgelope twee en ’n half dekades is ’n produk of selfs simptoom van die mislukkings van die Weste en Navo in die 1990’s.
Niks daarvan regverdig egter die oorlog in Oekraïne nie. Niks wat Poetin verlede week aan Carlson gesê het, is enige regverdiging vir ’n oorlog waarin honderde duisende mense reeds dood is nie. Rusland het onder Poetin se leierskap, en veral die afgelope twee jaar, meer outoritêr en meer onderdrukkend geword. Rusland se samewerking en steun aan despotiese regimes soos Iran, maar ook juntas in talle Afrikalande, is gevaarlik. Wanneer Wladimir Poetin die waarheid praat en Westerse swakpunte ontbloot, beteken dit nie dat hy skielik die morele hoëgrond betree nie. Dit is belangrik dat ons die vermoë behou om hierdie onderskeid te tref.