fbpx

Die verhaal van twee leiers

Deur on Jan 24, 2020

Nuuskommentaar: 24 Januarie

Die bekende Britse historikus, Arnold Toynbee, het bevind vir ’n land om voorspoedig te wees, dit sal afhang van die wyse waarop verskeie eietydse en toekomsgerigte uitdagings aangespreek word. Toynbee stel soos volg:

“Ek glo dat beskawings gebore word en groei deur suksesvol op opeenvolgende uitdagings wat ’n beskawing te staan kom, te reageer. Hulle verbrokkel wanneer ’n uitdaging voorgehou word wat nie aangespreek kan word nie.”

Die bogenoemde aanhaling kan beskou word as die lakmoestoets vir enige land in sy strewe na ’n voorspoedige bestaan.

Hierdie is ’n verhaal van twee leiers wat  eenderse uitdagings in die gesig staar:  Hoë vlakke van werkloosheid, lae ekonomiese groei, ’n ontoereikende onderwysstelsel en ’n rits maatskaplike uitdagings.

Hierdie twee leiers het ook in gemeen dat die lande waaroor hulle onderskeidelik regeer, kultuurryk is en ’n verskeidenheid van tale bevat.

Die eerste leier het hierdie uitdagings geneem en ’n program geloods wat op drie vaste beginsels geskoei is: Dat aanstellings uitsluitlik op meriete hanteer word, dat beleide strook met beproefde beginsels, én deur dit alles, dat eerlikheid die botoon voer in alles wat aangepak word.

Die tweede leier se wyse het kenmerkend verskil: Kaderontplooiing by alle aanstellings, dat die ideologie van nasionale demokratiese rewolusie by alle beleide klakkeloos gevolg sou word, dat ’n eng rasse-herorganisering van die samelewing aan die orde van die dag sal wees, én dat eerlikheid en verantwoordbaarheid slegs gemeld sal word, maar nooit werklik deurgevoer sal word nie.

Die eerste leier se besluite was geskoei op die beste praktyk vir groei, terwyl die tweede leier politieke gewildheid en magsbehoud nagestreef het.

Die eerste leier het armoede grootliks verbreek. Sy land ervaar ekonomiese voorspoed en word beskou as een van die voorste lande wat inligting en tegnologie aanbetref.

Die tweede leier se besluite het sy land in ’n ekonomiese krisis gedompel, waar die siklus van armoede en ekonomiese inkrimping algaande verdiep. Op die vooruitgang van inligting en tegnologie, is die tweede leier heeltemal verlore waar selfs basiese onderrig van ’n angswekkende swak gehalte is.

Die eerste leier is wyle eerste minister Lee Kuan Yew van Singapoer, wat in 2015 oorlede is, maar wie se werk deur die eerste minister Lee Hsien Loong voorgesit word. Singapoer spog tans met ’n werkloosheidskoers van slegs 2,3%, ’n inflasiekoers van slegs 0,6% en die land se bevolking word as een van die mees opgeleide bevolkings ter wêreld beskou.

Die tweede leier is president Cyril Ramaphosa, getaak om die ANC-beleid van absolute rasse-verteenwoordiging op elke vlak van die georganiseerde samelewing deur te voer, om eiendom en gesondheid te nasionaliseer en om die staat se greep op alles denkbaar te versterk en uit te brei. Gevolglik, sit Suid-Afrika met krippelende staatsondernemings wat die nasionale fiskus uitroei, ’n negatiewe ekonomiese groei, ’n werkloosheidskoers van 29,1% (waar die uitgebreide syfer nader aan 40% is), en met een van die swakste gehalte onderwysstelsels ter wêreld.  

Desondanks dié kommerwekkende aanduidings, weier die ANC-regering om hul greep te verslap – die teendeel is egter meer duidelik.  

Maar, Toynbee se lakmoestoets is gelukkig nie net op nasionale politieke leiers van toepassing nie.

Elke gemeenskap kan verantwoording daarvoor doen – en dit is presies wat die Afrikaner-kultuur en Afrikaanse taalgemeenskap doen. Ons bou volhoubare kennisinstellings, aktiewe burgerregte- en sakebelange-organisasies en bied alternatiewe tot ’n staat wat misluk.

Ons kan daarom hoopvol wees, omrede ons kies om self oor ons toekoms te besluit.

Ons kies self omdat ons kan, omdat ons moet, én omdat ons wil.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist