fbpx

Die probleem met `n minimumloon

Deur on Jun 26, 2019

Nuuskommentaar: 25 Junie

`n Tyd gelede, toe die nuwe minimumloon aangekondig is het verskeie ekonome gewaarsku dat hierdie tot `n verhoogde inkomste vir sommige maar `n algehele verlies aan inkomste vir ander kan lei. Die pleidooie het op dowe ore geval.

Intussen het meer as 360 werkgewers met sowat 42 000 mense in diens aansoek gedoen om van die voorgeskrewe minimumloon kwytgeskeld te word. 230 van die aansoeke is reeds goedgekeur.

Alhoewel die aansoekers nie-regeringsorganisasies insluit is daar ook werkgewers in die vervaardigingssektor. Die vervaarigingssektor het in die eerste kwartaal van 2019 `n inkrimping van 8,8% gesien. Ekonomiese groei in die algemeen het in dieselfde tyd met 3,2% ingekrimp. Teen hierdie agtergrond, en die feit dat Suid-Afrika vir `n tyd lank verlede `n tegniese resessie beleef het, is dit uiters kortsigtig van die regering om die minimumloon te verhoog.

`n Minimumloon plaas in onseker ekonomiese tye baie druk op werkgewers en lei dikwels eerder tot afleggings as wat dit `n verhoogde inkomste in die groter werkersklas tot gevolg het. Verder is dit baie ironies dat die regering, wat hierdie minimumloon op die privaat sector afdwing `n direkte bydra lewer tot die ekonomiese onsekerhede in Suid-Afrika. Eerstens is daar die onsekerheid wat geskep word oor die toekoms van eiendomsreg en die afgelope staatsrede wat geen glinstering van hoop in daardie verband bied nie. Dan word `n belangrike instelling soos die Reserwebank in `n politieke armdrukkompetisie tussen die Magashule- en Ramaphosa-faksies gebruik.

Indien die regering die uiters onverantwoordelike stap wil neem om vir maatskappye voor te skryf wat hulle hul personeellede moet betaal behoort hulle die verantwoordelikheid aan die dag te lê om te help skep aan `n gunstige ekonomiese omgewing waarin daardie ondernemings floreer. Op die einde van die dag bly die beste en nugterste ekonomiese beginsel om werkskepping en wat daardie werknemers betaal word by die privaatsektor te laat. En die regering moet eerder neuse daaruit hou.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist